Redaksie
Die Alternatiewe Inligtings-en-ontwikkelingsentrum (AIDC) het sterk kommer uitgespreek oor die toenemende spanning weens onwettige immigrante in Suid-Afrika. Die organisasie sê bewegings soos March and March en Operasie Dudula bevorder verdeeldheid in gemeenskappe en gebruik migrasie as sondebok vir breër sosiale en ekonomiese probleme soos werkloosheid en armoede.
March and March het ongedokumenteerde buitelanders tot 30 Junie gegee om die land te verlaat. Die organisasie beplan ook protesaksies op die dag. Die afgelope tyd het hulle reeds protesaksies in Johannesburg, Pretoria en Durban gelei.
Die AIDC sê die werklike oorsake van ongelykheid lê in strukturele ekonomiese probleme, soos werkloosheid, swak dienslewering en ongelyke verspreiding van welvaart, eerder as migrasie self.
Die sentrum doen ’n beroep op vakbonde, burgerlike organisasies en gemeenskappe om vreemdelingehaat te verwerp, solidariteit te bevorder en saam te werk oor nasionale en etniese grense heen om armoede en ongelykheid die hoof te bied.
Die stigter en nasionale leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma, het die afgelope week gemaan dat ondersteuners hulle op vreedsame betogings moet toespits en dat enige kriminele optrede die beweging se boodskap sal ondermyn.
Die groep eis onder meer dat onwettige immigrante die land verlaat, strenger toepassing van visumbeheer en optrede teen werkgewers wat ongedokumenteerde werkers in diens neem.
President Cyril Ramaphosa het die publiek intussen versoek om kalm te bly en teen geweld en vreemdelingehaat te waak, terwyl die regering ’n nuwe, strenger migrasiebestuurstrategie implementeer om grensbeheer en wetstoepassing te versterk. Ramaphosa sê die strategie sluit onder meer in verskerpte deportasies, meer grensbeheer met verbeterde toesig, en die moontlike instelling van spesiale immigrasiehowe om sake vinniger te hanteer.
Gauteng se polisie sê hulle berei voor op ’n grootskaalse ontplooiing van gespesialiseerde eenhede voor die verwagte betogings op 30 Junie. Eenhede soos openbareordepolisie, taktiese reaksiespanne, berede polisie en die honde-eenheid sal deel wees van die provinsiale noodplan.
Volgens brigadier Mark Joseph begin die ontplooiing reeds op die aand van 29 Junie, met wetstoepassers wat voortdurend situasies moet monitor. Hy sê die polisie sal elke situasie volgens meriete hanteer om lewensverlies te voorkom, en sal ook hoofroetes beskerm en moontlike aanvalle op buitelandse vragmotorbestuurders en plundering probeer voorkom.
Sowat 500 Nigeriese burgers het hul repatriasieproses by die Nigeriese Hoë Kommissariaat in Pretoria begin en was teen vroeër die week onderweg na die OR Tambo Internasionale Lughawe. Meer as ’n duisend Nigeriërs het reeds aangedui dat hulle na hul tuisland wil terugkeer voor die sperdatum van 30 Junie wat deur teenmigrantegroepe gestel is. Die repatriasieproses vorm deel van Nigerië se poging om sy burgers wat vrywillig wil terugkeer, by te staan.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek– https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-70-12-18-Jun-2026.pdf