’n Derde verdagte is gister in Zimbabwe in hegtenis geneem in verband met die moord op die egpaar, Ernst Marais (71) en sy vrou, Dina (73), in die Nasionale Krugerwildtuin.
Die polisie sê dat ’n 26-jarige Mosambiekse burger, Macandze Lionel da Marta, oor die grens gevlug het nadat twee ander verdagtes vroeër vandeesmaand in Mosambiek vasgetrek is, waar die slagoffers se voertuig ook herwin is.
Die egpaar is op 20 Mei by Crooks Corner in die noordooste van die wildtuin vermoor. Toeriste het twee dae later op hul lyke op die oewer van die Limpoporivier afgekom.
Hul voertuig wat in Mosambiek opgespoor is, het tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte in Chokwé in die suide van Mosambiek gelei. Die tweede verdagte is die dag daarna in Xai-Xai in die Gaza-provinsie in Mosambiek vasgetrek.
Die minister van bosbou, visserye en die omgewing, Willie Aucamp het die naatlose streeksamewerking tussen die polisie, Sanparke en die owerhede van Mosambiek en Zimbabwe geloof.
“Hierdie inhegtenisneming toon dat ons toewyding om elke individu wat by hierdie tragiese misdaad betrokke was, op te spoor en aan te keer onwrikbaar en vasberade was,” sê Aucamp.
Da Marta sal, nes die eerste twee beskuldigdes, ooreenkomstig die toepaslike wetlike en uitleweringsprosedures hanteer word. Hy gaan saam met die twee ander beskuldigdes op aanklagte van moord teregstaan.
Aucamp het beklemtoon dat die inhegtenisnemings as ’n duidelike waarskuwing moet dien aan enigiemand wat misdadige aktiwiteite binne die Nasionale Krugerwildtuin oorweeg.
“Dié soort optrede sal met die volle mag van die wet hanteer word en dat diegene wat verantwoordelik is, meedoënloos agtervolg en voor die gereg gebring sal word.”