Luister nou

“Vermaaklike” e-pos lok woede uit

Deur Pretoria FM Nuusspan

Redaksie

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling kry slae vanuit verskeie fronte, nadat die minister van dié portefeulje, John Steenhuisen, se personeelhoof, Jana le Roux, ’n e-pos van FMD Response SA wat aan die minister gerig was aan verskeie kollegas, insluitend die direkteur-generaal, gestuur het met die volgende opskrif:

“Sien aangehegde – pas ontvang – vir ’n bietjie vermaak.”

Die brief versoek vriendelike samewerking met betrekking tot die nasionale inentingsveldtog teen bek-en-klouseer … en is deur FMD Response SA se hoof van strategie en koördinering, Andrew Morphew, aan die minister gestuur.

Morphew het die afgelope week aan die aanbieder van die program Impak op Pretoria FM, Esté Gross, gesê dat hulle kan bevestig dat die e-pos eg is.

“Ons eerste reaksie was teleurstelling. Ons het in goeie trou gehandel en gehoop dat ons kommer oor die aangeleentheid aandag sou kry en dat ons interaksie met die departement en die minister sou kon hê.”

Morphew sê dat hulle groot bekommernis is dat die departement se strategie om bek-en-klouseer te bekamp nie die verwagte resultate sal verkry nie.

“Die minister het gesê dat ons mik na ’n bek-en-klouseervrye status met die inentingsproses. Daar is verskeie kundiges in die land wat sê die bestaande strategie kan dit nie bereik nie. En dit is omdat die regering se strategie nie die biologie van die siekte verreken nie. Entstowwe moet vinniger toegedien word.”

Morphew sê die e-pos, wat aan die minister gerig was, is deur Le Roux aangestuur waarna een van die ontvangers daarop reageer en die oorspronklike sender ingesluit het.

Die VF Plus het intussen gesê dat hulle ’n ondersoek eis na Le Roux se reaksie op FMD Response se e-pos.

Die minister het op die sosialemediaplatform X gesê dat hy kennis neem van die gewraakte e-pos en die betrokke personeellid gevra het om om verskoning te vra.

Verskeie lede van die publiek het intussen hulle woede oor die departement se reaksie op die e-pos uitgespreek en Steenhuisen en Le Roux se koppe geëis. Hulle voer onder meer aan dat dié e-pos getuig van die klimaat in die minister se kantoor.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum sê dié voorval dien as nog ’n bewys waarom boere vertroue in die departement se hantering van die krisis verloor en toenemend daarop aandring om by die inentingstrategie betrek te word.

“Terwyl boere probeer om hul kuddes te red en hul lewensbestaan te beskerm, word hul bekommernisse in die hoogste kringe van die departement afgelag. Dit is onaanvaarbaar, ongevoelig en bevestig die dringende behoefte aan ’n ander benadering in die hantering van bek-en-klouseer.”

Die uitvoerende hoof van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (SAAI), Francois Rossouw, sê Le Roux se e-pos is die perfekte simbool van hoe bek-en-klouseer tot op hede deur die Departement van Landbou hanteer en geprioritiseer word.

“Hierdie optrede getuig van ’n verregaande minagting vir die boere wat besig is om hul lewensbestaan te verloor terwyl hulle die regering probeer ondersteun om die siekte onder beheer te bring. Dringende tugstappe moet onmiddellik teen haar gedoen word. Minister Steenhuisen het die plig om openlik en onomwonde afstand te doen van hierdie arrogante houding. Boere verdien respek en ernstige aandag uit die kantoor van die minister van Landbou – nie spot en minagting nie.”

Hier is hoe lesers op Le Roux se e-pos (lees die volledige berig in hierdie eksemplaar van Nuusweek) gereageer het:

 

Christo Steyn de Wet

Die blote feit dat sy die vrymoedigheid het om ’n e-pos met die opmerking te kon aanstuur, dui op die atmosfeer en minagtende houding in die minister se kantoor. Sy moet jammer sê? Waarvoor? Omdat hulle uitgevang is! En steeds sal bittereinder-ondersteuners soos skape ter slagting agter die onbekwame minister aanstap …

Petro Holtzhausen

Dit som op hoeveel hulle omgee vir die boere! Skandalig! Geen begrip van waardeur die boere is nie! Om jammer te sê, sal niks help nie!

Hendrik Kruger

John Steenhuisen is ’n lafaard. In plaas daarvan dat hy verantwoordelikheid aanvaar vir die toon waarmee belanghebbendes behandel word deur sy kantoor, blameer hy ’n vroulike ondergeskikte wat maar net optree volgens sy eie voorbeeld. Onthou hoe hy die leier van SAAI uit ’n foto geredigeer het?

Paul Mulder

Skade is gedoen. Dit openbaar die ganse houding van die departement. Verskoning gaan glad nie help nie. Jana le Roux sal aan die boere moet verduidelik wat lê aan die wortel hiervan. Is dit wraak oor die hofsaak of staan hulle koud teenoor mense se krisis?

Emmie Smit

Die minagtende toon dui op ’n gebrek aan erns oor biosekuriteit, onvoldoende begrip van die impak op boere, uitvoere en voedselsekerheid, of ’n gevaarlike “dit is nie ’n krisis nie”-ingesteldheid.

Die gebrek aan professionele standaarde is onaanvaarbaar.

Openbare amptenare behoort respekvol, feitelik en deursigtig te kommunikeer.

Die verkleinerende toon van die e-pos wys moontlik na swak interne dissipline of toesig, en ’n kultuur waar aanspreeklikheid nie sterk toegepas word nie.

As produsente, veeartse of die publiek afgekraak word, skep dit wantroue, verswak dit samewerking (wat noodsaaklik is tydens siektebeheer), en kan dit lei tot minder rapportering van gevalle, wat die probleem vererger.

Moontlike defensiewe houding kan dui op ’n kultuur van verdediging eerder as dienslewering en ’n fokus op beeldbestuur eerder as probleemoplossing.

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweekhttps://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-70-12-18-Jun-2026.pdf

Gewilde Nuus

Verkiesing - Trek Kruisie - OVK

Toename in geregistreerde kiesers

Graffiti logo

Die Graffiti-boekeblad

Jeugwerkloosheid Youth Unemployment

60% van jongmense werkloos

Fotokrediet: Queen City News

Hoeveel mikroplastiek is in jou tee?

Fotokrediet: World Bank Blogs

DA gaan dossier by SAMRK indien

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
Iran toets grense uit vrees vir verlies van Hormoes-hefboom
Cyril Ramaphosa dink
Ramaphosa wil Phala Phala-ondersoek stuit
Verkiesing - Trek Kruisie - OVK
Toename in geregistreerde kiesers
Graffiti logo
Die Graffiti-boekeblad
Jeugwerkloosheid Youth Unemployment
60% van jongmense werkloos

Luister nou