Die Spesiale Ondersoek-eenheid het sewe sidikate uitgewys wat verantwoordelik was vir die verduistering van meer as R2 miljard by die Tembisa-hospitaal.
Die hoof van die SOE, Andy Mothibi het tydens ’n mediakonferensie by die Oos-Rand-hospitaal ’n tussentydse verslag bekend gemaak oor ’n ondersoek wat gevolg het nadat die fluitjieblaser, Babita Deokaran, onreëlmatighede uitgewys het.
Deokaran was ’n senior beampte in die Gautengse gesondheidsdepartement se finansiesafdeling.
Sy is in Augustus 2021 vermoor.
Die SOE het ook ‘n bevel bekom om die belange van die tendermagnaat, Hangwani Morgan Maumela te bevries, nadat hy as een van die sindikate by die Tembisa-hospitaal uitgewys is.
Maumela se bates is sowat R520 miljoen werd, wat luukse voertuie en eiendomme insluit.
Die Maumela-sindikaat het deur middel van ‘n netwerk maatskappye meer as R816 miljoen onwettig bekom. Die omstrede sakeman, Vusumuzi “Cat” Matlala se drie maatskappye was ook deel van die Maumela-sindikaat. Hy het meer as R15 miljoen in sy sak gesteek.
Nóg sindikate wat geld onwettig bekom het is die Mazibuko-sindikaat, Sindikaat-X en vier kleiner sindikate. Verskeie amptenare, wat gunslone ontvang het, was deel van die web van korrupsie en bedrog.
Mothibi het gesê die ondersoek bekyk 207 verskaffers wat dienste aan die hospitaal gelewer het onder 4 501 koopopdragte.
Fotokrediet: Thapelo Morebudi
One Response
Net sewe……
Nooit.