Luister nou

Wanneer regstelling ’n rookskerm word

Deur Redaksie

Aan wie behoort die land? Die afgelope week kom ek weer op die Skrifgedeelte af waar koning Salomo die moeilike taak opgelê is om te beslis aan watter ma die baba behoort.

Twee vroue staan voor hom, beide het in een huis gebly, beide het ’n baba in die lewe gebring. Een baba is dood. Een baba leef. Beide beweer dat die baba wat leef haar baba is. Salomo beveel,  “Bring vir my ’n swaard en sny die kind wat lewe in twee stukke en gee vir elkeen van hulle ’n helfte!” Maar die ma van die kind wat lewe, begin toe by die koning smeek, want haar hart het inmekaar gekrimp oor die lot van haar baba, en sy sê: “Asseblief, U Majesteit, gee die seuntjie wat lewe vir haar, moet hom tog net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou sê: “As ek hom nie kry nie, kry jy hom ook nie. Sny hom deur!” Salomo lewer toe sy uitspraak en sê,  “Moenie die kind doodmaak nie, maar gee hom vir die een dáár, sý is die ma!” Die een wat gepleit het vir die baba se lewe.

Dan kyk ek na dit wat in ons land gebeur. Wie bou? Wie breek? Wie skep ’n ruimte van lewe en vooruitgang? Wie spoor geweld en moord aan? Aan wie behoort die land? In ’n tyd waar daar ’n ewig toenemende oorlog en vyandskap teen die Weste is, is daar beslis ’n argument te maak oor hoe kulturele en morele verhale gebruik of misbruik word om mense se verbeelding en waardestelsels te herskryf.

Dit is kommerwekkend om te sien hoe retoriek belangriker as die feite en waarheid in ons land geword het.  Hoe die openbare taal oor geregtigheid, regstelling en herstel lankal nie meer primêr ’n etiese saak is nie, maar ’n instrument om mag te konsolideer, kritiek as vyandigheid af te maak en aanhitsing tot geweld ten alle koste te regverdig.

Die regstellende gesprek is vir veels te lank ’n eensydige een en niks anders as wettige diskriminasie, geweld, ontneming van eiendom en sistematiese uitsluiting en versmoring van die Afrikaner taal en kultuur nie.

Ons bevind ons in ’n kulturele oorlog. ’n Kulturele oorlog waarin die narratiewe bedoel is om ’n sekere lojaliteit, skuld en identiteit af te dwing. Die regering en sy bondgenote swaai die morele vlag van regstellende aksie, maar terselfdertyd word korrupsie, swak dienslewering en die absolute afwesigheid van verantwoordbaarheid onder die mat gevee.

Regstelling dien nie meer langer as die herstel van onreg nie, maar is ’n voortdurende proses waarin lojaliteit en identiteit meer weeg as verdienstelikheid, kundigheid, effektiwiteit en integriteit.

Kritiek op wanorde en korrupsie word as minagting van die vryheidstryd hermerk, selfs as ’n terugkeer na apartheid bestempel, eerder as om dit as ’n geldige poging tot beter bestuur en verantwoordbaarheid te verwelkom. Die fokus verskuif van beleid en resultate na bewysvoering van ’n groepsaanspraak. Wie is die regverdige party, wie is die slagoffers? Wie mag kla en wie moet stilgemaak word?

Die krisis waarmee ons sit, is dat waar regstelling geen einddatum het nie en onbepaald bly, herstelnarratiewe onvermydelik deur magspolitiek oorgeneem sal word, en die gesprek een sal raak waar wraak as die primêre dryfveer dien. Dit is wat ons tans in ons land sien. Die bou van morele kaders waarin lojaliteit aan party as deug, en kritiek as verraad, gesien word. Waarin die waardes en beginsels wat as riglyn en grensbepaling dien, boos en oneties is.

Ons sien hoe die ruimte vir kalm, feitelike, logiese, objektiewe evaluasie by die dag kleiner en kleiner word, soos hierdie argumente nie net in die parlement nie, maar ook in die howe en openbare platforms die norm raak. Ons sien hoe dubbele standaarde en selektiewe morele skuld heers.

Wat anders is dit as om oorlog teen die Westerse wêreld te verklaar? Deur sekere geskiedenisse van geweld, onreg en uitbuiting voor te hou asof dit slegs aan een groep behoort? Die Westerse wêreld wat as die groot euwel bestempel word, terwyl ander geskiedenisse en die grusame magsmisbruik onondersoek bly.  ’n Blinde oog gedraai word vir die geweld en wetteloosheid wat daar heers. Hoe slegs sekere misdade as misdade beskou word en ander ontken, versag of van blaam onthef word.

Ná 30 jaar is moraliteit stelselmatig met mag vervang. Historiese skuld gebruik as ’n rookskerm om die aandag weg te trek van die kernprobleme rondom swak dienslewering, bestuur en fiskale dissipline. ’n Eens florerende ekonomie verwoes deur korrupsie en praktiese meganismes wat die groei daarvan ondersteun en bevorder.

Dit blyk die epidemie van ons tyd te wees. Een van onversadigbare magsgierigheid, gebrek aan dankbaarheid en ’n kultuur van wraaksug. Die swaard het gekom om die koring van die kaf te skei en te bepaal wie die land moet kry, want wanneer die waarde van vryheid, regte, institusionele stabiliteit en materiële vooruitgang as vanselfsprekend aanvaar en gering geag word, loop dit op ’n totale verval, verarming en dood uit.

Die jammers is gesê. Die tyd het gekom om ’n einde te maak aan hierdie diep swart gat van bitterheid wat vooruitgang versmoor.

Alta Strauss is ’n breinprofielpraktisyn, motiveringspreker en skrywer.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-89-23-Okt-2026-1.pdf

Gewilde Nuus

Willie 2

Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Ander Nuus Artikels

The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye
Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Luister nou