ʼn Vriend in Lansing, Michigan het onlangs foto’s van sy stembrief aangestuur. Hy het vroeg gaan stem en moes in totaal meer as dertig stemme uitbring. Dit het stemme ingesluit vir goewerneur en senator van Michigan, vir die huis van verteenwoordigers, vir die senaat en die huis in die Michigan-wetgewer, vir die prokureur-generaal en talle ander posisies in die deelstaat se regering, sowel as vir trustees by universiteite, raadslede vir die liggaam wat oor onderwys in die deelstaat toesig hou, regters in Michigan se hooggeregshof en appèlhof, skoolbeheerliggame en talle inisiatiewe wat soos ʼn referendum deur kiesers goedgekeur moet word. Om in die VSA te stem, is veel ingewikkelder as wat heelwat mense besef. Dit is immers die aard van ʼn sterk gedesentraliseerde kiesstelsel, waar kiesers inspraak kry in die aanstelling van die meeste openbare ampsdraers.
Met net meer as tien dae oor tot die verkiesing, is die wêreld se oë gerig op die beheer van die Amerikaanse kongres en wat dit vir president Donald Trump in die laaste twee jaar van sy termyn gaan beteken. Die middeltermynverkiesing is egter veel meer omvangryk en het blywende gevolge in elke deelstaat, en elke distrik in daardie deelstaat. In Lansing moes my vriend onder meer stem oor ʼn bykomende belasting op brandstof wat net in Lansing sal geld en wat bedoel is om verhoogde polisiëring, brandbestryding en die herstel van sypaadjies te finansier. Die verkiesing gaan dus oor veel meer as net beheer van die kongres in Washington DC.
Beheer oor die kongres en goewerneurskappe
Die belangrikste fokus, veral in die media en veldtogte, is egter natuurlik altyd, soos ook vanjaar, op federale posisies. Nadat die Amerikaanse grondwet in 1787 saamgestel en dit in 1789 deur die deelstate aanvaar is, is die huidige stelsel om federale verkiesings te hou, geïmplementeer. Die eerste middeltermynverkiesing het tydens die presidentskap van George Washington plaasgevind; dit het nie op een dag plaasgevind nie, maar deelstate het tussen April 1790 en Oktober 1791 hul middeltermynverkiesings gehou. Die standaardisering na een datum is eers later, in 1872, geïmplementeer.
Sedert 1872 is daar dus elke twee jaar ʼn federale verkiesing in die VSA op die eerste Dinsdag ná die eerste Maandag in November. Elke vier jaar word die president verkies. Die verkiesings wat tussen twee presidentsverkiesings plaasvind, staan dan as middeltermynverkiesings bekend.
Elke deelstaat word deur twee senatore verteenwoordig, of dit nou Wyoming met sy minder as 600 000 burgers of Kalifornië met sy byna 40 miljoen is. Die doel daarvan is om ʼn magsewewig tussen landelike, ylbevolkte dele van die VSA en digbevolkte, groter deelstate binne die federalistiese stelsel te verseker. Senatore dien ʼn sesjaartermyn met ʼn derde van senatore wat elke tweede jaar dus herverkies word, behalwe in gevalle waar senatore afgetree het of oorlede is en deur ʼn tydelike aanstelling vervang is. Daar is vanjaar 35 senaatsverkiesings, aangesien daar in twee deelstate tydelike aanstellings gemaak is ná die vertrek van die vorige ampsbekleërs.
Die huis van verteenwoordigers bestaan uit 435 distrikte wat elke tien jaar ná ʼn sensus hersaamgestel word. Deelstate word volgens hul bevolkingsgrootte ʼn aantal setels toegeken en elke deelstaat moet dan sy distrikte daarvolgens saamstel. Tans is die gemiddelde bevolking per distrik net meer as 760 000. Lede van die huis van verteenwoordigers dien almal slegs ʼn tweejaartermyn, wat beteken dat alle lede dus elke twee jaar herverkies moet word.
Die meeste deelstate se goewerneurs dien vierjaartermyne. Vanjaar moet daar 39 goewerneurs verkies word.
Verwagtinge vir vanjaar se verkiesing
Oor die afgelope honderd jaar het ʼn president se politieke party slegs drie keer daarin geslaag om ʼn middeltermynverkiesing te wen. Die Republikeine het die afgelope twee jaar die Withuis, senaat en huis van verteenwoordigers beheer. Dit gebeur dus baie selde dat die party in so ʼn situasie daarin sal slaag om in die middeltermynverkiesing te wen.
Die afgelope paar maande dui peilings daarop dat die Demokrate dan ook nasionaal met tussen 5% en 10% voorloop. Hoewel dit as ʼn aanduiding van die nasionale politieke sentiment dien, voorspel dit nie noodwendig die finale uitslag nie, aangesien die Demokrate se steun hoogs gekonsentreerd is in stedelike gebiede en ʼn kleiner getal deelstate. Republikeine se steun is meer verspreid.
Demokrate se voordeel vanjaar is die tradisionele neiging dat ʼn middeltermynverkiesing ʼn magsbalans binne Washington teweegbring. Kiesers is dus meer geneë om die opposisieparty te steun. President Trump se dalende steunvlakke, tesame met woede oor hoë brandstofpryse en stygende inflasie, tel ook sterk in Demokrate se guns.
Wat in die Republikeine se guns tel, is die feit dat hulle vanjaar oor aansienlik meer befondsing beskik as die Demokrate. Daarbenewens is die belangrikste setels, veral in die senaat, in tradisioneel Republikeinsgesinde deelstate, waar die party goeie strukture in plek het.
My voorspelling
Dit is hoogs waarskynlik dat die Demokrate beheer oor die huis van verteenwoordigers gaan neem. Republikeine het tans ʼn klein meerderheid daar en slegs enkele oorwinnings vir die Demokrate sal beteken dat hulle beheer van die laerhuis kan neem.
In die senaat gaan dit moeiliker wees vir die Demokrate. Daar is twaalf deelstate om dop te hou. Vir nou lyk dit na ʼn uitgemaakte saak dat die Demokrate die setel in Noord-Carolina sal verower. Demokrate sal die setels in New Hampshire en Georgia behou. Republikeine sal die setels in Nebraska, Kansas en Florida waarskynlik behou. Dit beteken dat die Demokrate vier van die setels in ses deelstate – Alaska, Texas, Iowa, Ohio, Michigan en Maine – sal moet wen.
My uiters gewaagde voorspelling is dat Susan Collins, soos sy vir drie dekades gedoen het, weer in Maine gaan verras deur haar setel te behou. In Texas gaan Ken Paxton se agterstand opdroog danksy goeie organisering deur die Republikeine en gaan hulle die setel behou. Ook in Iowa sal die Republikeine net-net wen. Dit bring die Republikeine tot by 50 setels wat, met die beslissende stem van adjunkpresident JD Vance, vir die party ʼn meerderheid en dus beheer oor die senaat gee. In Michigan, tans ʼn Demokraat-setel, behoort die Republikein Mike Rogers dalk ʼn haas uit die hoed te pluk teen ʼn radikale linkse kandidaat. Dit is tans ʼn kop-aan-kop-stryd. In Ohio haal die Republikeine in, maar is hul kandidate vir senator en goewerneur steeds agter.
In al hierdie verkiesings gaan die uitslag nou bepaal word deur wie werklik opdaag om te stem. Die stempersentasie in ʼn middeltermynverkiesing is byna altyd onder 50%. Gaan meer Demokrate gemotiveer wees om te gaan stem? Gaan Republikeine se organisering en sterk befondsing help om meer Trump-ondersteuners by die stembus te kry? Uiteindelik sal die uitslag deur opkoms bepaal word, maar vir nou lyk dit of die Demokrate die huis van verteenwoordigers kan wen en die Republikeine net-net beheer oor die senaat gaan behou.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-89-23-Okt-2026-1.pdf