Suid-Afrika se bevolking het vanjaar met 421 000 gegroei en word nou op 63,5 miljoen mense geraam.
Volgens die jongste middeljaarlikse bevolkingsberamings wat deur Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak is, is Gauteng die digsbevolkte provinsie met 16,2 miljoen inwoners, gevolg deur KwaZulu-Natal met net meer as 12,2 miljoen inwoners. Die Noord-Kaap behou steeds die ylste bevolking.
Die verslag toon dat die land se bevolking steeds ouer word. Een uit tien landsburgers het reeds die ouderdom van 60 óf ouer bereik, terwyl ’n kwart jonger as vyftien is.
Suid-Afrikaanse mans se lewensverwagting het tot 65 en ’n half verbeter, terwyl vrouens gemiddeld 71 jaar oud word. Die land se babasterftesyfer het tot 23,7 sterftes per eenduisend geboortes afgeneem.
Die wêreldbevolking het óók gegroei, ván 6,3 miljard tót 8,3 miljard.