Die voorreg om landbouskoue, boeredae en paneelbesprekings van kundiges oor voedselproduksie en -voorsiening by te woon, moet nie geringgeskat word nie. Dit is dikwels juis daar waar ’n mens die groter prentjie begin verstaan: hoe voedselsekerheid werk, wie die rolspelers is, waar waarde geskep word en belangriker nog, wie die risiko’s in die waardeketting dra.
Kos op die tafel is nie vanselfsprekend nie.
Die verbruiker is uiteindelik die mark en hulle behoeftes bepaal watter voedsel geproduseer word. Daardie vraag speel ook ’n belangrike rol in prysvorming. Maar agter elke produk wat op ’n winkelrak beland, is daar ’n produsent wat eers die risiko moes neem om dit te produseer.
Die boer is die beginpunt waarom die hele landbouwaardeketting draai. Primêre landbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk mag relatief klein lyk, maar die breër landbou- en voedselwaardeketting se ekonomiese betekenis is veel groter. Die grootste waardetoevoeging aan baie voedselprodukte vind inderdaad ná die plaashek plaas; deur verwerking, verpakking, vervoer, bemarking en kleinhandel. Niks hiervan kan gebeur indien die boer nie eers die primêre produk produseer nie.
Juis dáár lê ’n belangrike waarheid: Die boer dra ’n buitengewone hoë risiko.
Weersomstandighede kan binne enkele ure ’n seisoen se inkomste vernietig. Pryse kan daal, insetkoste styg, siektes uitbreek en markte verander. Boonop moet Suid-Afrikaanse boere dikwels self help om die tekortkominge van die omgewing waarin hulle sake doen, te oorbrug. Veiligheid, paaie, water, elektrisiteit en ander infrastruktuur is nie bloot geriewe nie; dit is noodsaaklike voorwaardes vir ekonomiese produksie.
Daar is talle plekke waar boere noodgedwonge self paaie herstel of onderhou bloot om hul produkte by die mark te kry.
Dit bring ons by die groter Suid-Afrikaanse ekonomiese werklikheid. ’n Ekonomie kan nie volhoubaar groei sonder ’n beleidsomgewing wat vertroue skep nie. Beleggers, entrepreneurs en produsente moet kan glo dat die spelreëls redelik voorspelbaar is en dat produktiewe kapitaal en harde werk beloon sal word.
Geen boer kan bloot ’n gewenste oes op papier verklaar, verkeerde besluite neem en dan verwag dat die plaas vanself winsgewend sal wees nie. Net so kan geen land ’n beleid volg wat produksie, investering en ondernemingsvertroue ondermyn en terselfdertyd volhoubare ekonomiese groei verwag nie.
Die omvang van die uitdaging word onder meer sigbaar wanneer na die belastingbasis gekyk word. Volgens die jongste SARS-belastingstatistiek is 7,71 miljoen individue vir die 2024-belastingjaar geassesseer. Dit is maar een deel van die totale belastingbasis, maar dit illustreer hoe belangrik die produktiewe ekonomie en diegene wat inkomste genereer, vir die funksionering van die staat is.
Daarom behoort Suid-Afrika veel meer aandag te gee aan die mense en ondernemings wat waarde skep. Ons staan toenemend voor ’n keuse tussen ’n kultuur van voortdurende aanspraak (“demanding culture”) en ’n boukultuur waarin mense verantwoordelikheid aanvaar, innoveer, werk, produseer en die toekoms probeer ontsluit.
Hierdie spanning raak ook die landbou.
Ons kan nie voedselsekerheid as vanselfsprekend aanvaar en terselfdertyd die omstandighede wat kommersiële voedselproduksie moontlik maak, verswak nie. Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika se boere in produksie gehou word. Elke plaas wat produktief bly, dra by tot voedsel op die tafel, werkgeleenthede, belastinginkomste, uitvoere en ekonomiese aktiwiteit.
Daarom moet landbou nie deur ideologiese lense beoordeel word nie, maar aan die hand van ’n eenvoudige vraag: Maak die beleid dit makliker of moeiliker om te produseer, te belê en winsgewend te boer?
Eiendomsreg is binne hierdie verband van kardinale belang. Onteiening sonder billike vergoeding, of enige beleidsrigting wat onsekerheid oor eiendomsreg skep, kan nie losgemaak word van die vraag wat dit aan investering en produksie doen nie. Suid-Afrika het beleid nodig wat produksie uitbrei, nie beleid wat die risiko van produksie verder verhoog nie.
Die verantwoordelikheid lê egter nie net by die staat nie. Elke boer het ook ’n verantwoordelikheid om betrokke te wees, ingelig te wees en beginselvas standpunt in te neem oor sake wat die toekoms van landbou raak. Om stil te bly wanneer beleidsrigtings uiteindelik produksie en voedselsekerheid bedreig, is nie neutraliteit nie. Elkeen moet in die verband ook hulle organisasies toets oor watter standpunte ondersteun en uitgedra word.
Die verbruiker bepaal uiteindelik watter kos op die bord kom. Net so bepaal ons as burgers, produsente en gemeenskappe deur ons keuses en betrokkenheid watter rigting Suid-Afrika inslaan.
Landbou moet leef sodat die land kan leef. Daarom moet ons nie net vra wie vandag kos op die tafel sit nie. Ons moet vra wat ons doen om te verseker dat daar ook môre en oor twintig jaar nog iemand is wat dit kan doen.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-84-18-Sept-2026-1.pdf