President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners gemaan om vreemdelinge haat te verwerp en die oppergesag van die reg te handhaaf.
Dit volg te midde van ’n vlaag aanvalle op buitelanders in verskeie stede, terwyl lande soos Ghana en Nigerië amptelike klagtes ingedien het.
Hy het tydens sy Vryheidsdag-toespraak in Bloemfontein gesê Suid-Afrika se vryheid is moontlik gemaak deur steun van ander Afrika-lande, en dat dié samewerking gerespekteer moet word.
Ramaphosa het beklemtoon dat kommer oor onwettige immigrasie nie tot vooroordeel of geweld teenoor ander Afrikane mag lei nie.
Hy sê die regering werk daaraan om onwettige immigrasie en korrupsie in die stelsel die hoof te bied, en waarsku dat niemand die reg in eie hande moet neem nie.