Lex Libertas en die New York Young Republican Club sal vandag 3 000 kruise ter nagedagtenis aan boere wat op hulle plase vermoor is op die National Mall in Washington, DC plant. Die uitvoerende voorsitter van Lex Libertas, dr. Ernst Roets, het vanuit Washington aan Nuusweek gesê dat die proses na afloop van die Witkruisprojek se konferensie by die Nasionale Persklub sal begin. Tydens dié konferensie sal aanhitsing tot geweld, plaasmoorde en raswetgewing onder meer onder die soeklig geplaas word.

’n Palet met van die wit kruise wat vandag in Washington geplant word. (Foto: Verskaf)
Ongeveer 13:00 die middag (EDT) sal daar sal eers toue gespan word waarvolgens die kruise uitgelê sal word, waarna die kruise in die grond ingekap sal word. Die name van die slagoffers sal waarskynlik teen Saterdag aangebring word, waarna Roets en Marie-Louise de Nysschen, projekbestuurder van die Witkruisprojek kort toesprake sal lewer. ’n Verteenwoordiger van die Withuis sal ook die geleentheid bywoon. Die kruise sal dan tot Saterdag 17:00 (EDT) op die National Mall staan.
Roets sê Lex Libertas wil met hierdie aksie oplossings of ingryping verseker. Lex Libertas wil sien dat die vervolging van haatspraak konsekwent toegepas word, raswette afgeskaal word en plaasmoorde geprioritiseer word. Volgens Roets is dit belangrik dat die prioritisering van plaasmoorde nie net lippetaal bly nie, maar ook praktiese implementering geniet. Verder wil hulle graag sien dat privaat sekuriteit dereguleer en die Onteieningswet gewysig word.
Roets sê egter dat dié punte bloot simptoomverligting is en dat die politieke stelsel in Suid-Afrika moet verander.
“Daar is te veel mag by ’n sentrale regering gesetel wat verwyder van die werklikheid en nie verantwoordbaar is nie. Ons langtermynoplossing is desentralisering en die bevordering van selfregering.”

Die National Mall waar die 3 000 wit kruise later vandag geplant sal word. (Foto: Marie-Louise de Nysschen)