Die Nasionale Tesourie het R10 miljard aan die Sentrale Energiefonds beskikbaar gestel om motoriste teen skerp brandstofprysstygings te beskerm.
Dít volg op volgehoue geopolitieke spanning in die Midde-Ooste en wisselvallige oliepryse.
Parlementslede in die Staande Komitee oor Toewysings het vandag vir die eerste keer die Wetsontwerp op Spesiale Begrotings bespreek.
Parlementslede is glo onkant betrap, aangesien die fondse sonder vooraf goedkeuring oorgedra is.
Die adjunkminister van finansies, David Masondo, het gesê dat die besluit vir die toewysing, wat buite die twee begrotingsiklusse val, aangespoor is deur geopolitieke spanning in die Midde-Ooste, wat vroeër in 2026 opgevlam het.
“Met die drie maande lange brandstofheffingverligting wat in Junie geëindig het, wou die die Tesourie ’n buffer skep vir verdere onvoorsiene wisselvalligheid,” sê Masondo.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, is ingevolge die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies by magte om dringende fondse onmiddellik vry te stel.
Daar is egter streng voorwaardes aan die oordrag gestel, wat aan die Nasionale Inkomstefonds terugbesorg sal moet word indien dit nie in die toekoms gebruik word om brandstofprysstygings teen te werk nie.
Die Begrotingskomitee sal nou openbare voorleggings oor die wetsontwerp aanvra, sowel as insette van die parlement se begrotingskantoor en die Finansiële en Fiskale Kommissie versoek.