Die MK-party se aansoek om die Madlanga-kommissie van ondersoek te staak, word vandag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.
Die kommissie het gister met sy sittings begin om bewerings van politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel te ondersoek.
Die MK-party voer aan dat president Cyril Ramaphosa se besluit om die kommissie aan te stel, onwettig is. Hulle het die hof genader nadat hulle direkte toegang tot die Grondwethof geweier is.
Tydens gister se sitting het die geskorste minister van polisie, Senzo Mchunu, onder verdenking gekom. Luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi het onder eed getuig dat Mchunu “ten volle betrokke by die besluite van ’n sindikaat in Gauteng is” en ’n taakspan wat politieke moorde ondersoek onwettig probeer ontbind het.
Lt-genl Mkhwanazi het op 6 Julie by ’n openbare geleentheid beweer dat die strafregstelsel onder verdenking geplaas is, omdat kriminele sindikate die polisie, regstelsel, parlement, politiek, intelligensie en wetstoepassingstrukture geinfiltreer het.
Die kommissie, wat deur regter Mbuyiseli Madlanga gelei word, moet hierdie bewerings onbevrees en onpartydig ondersoek en getuienis toets om vertroue in die strafregstelsel te herstel en aanbevelings te maak vir dringende hervormings.
DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, Lisa Schickerling, sê die party se verwagtinge moet die omvang van politieke en kriminele inmenging in wetstoepassing en justisie blootlê. Volgens Schickerling moet die kommissie verseker dat elke betrokke individu tot verantwoording geroep word. Sy sê getuies en fluitjieblasers moet as prioriteit beskerm word en dringende hervormings vir instellings soos die SAPD en die NVG moet voorgestel word.
Die kommissie moet binne drie maande ’n voorlopige verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig.
Fotokrediet: Rosetta Msimango/News24
One Response
Dit gaan ramaphosa 30 jaar neem om deur die verslag te werk.