Die leier van ActionSA, Herman Mashaba het sy veldtog as burgemeesterkandidaat vir die party vanmiddag van stapel laat loop en beloof om Johannesburg reg te ruk deur ’n sterk fokus op optrede, dienslewering en aanspreeklikheid.
Hy sê die metro ervaar ernstige probleme met onder meer watertekorte, swak infrastruktuur, paaie en straatligte wat verval, wetteloosheid en misdaad en dat die metro deur misdadige sindikate oorheers word.
Mashaba meen hierdie probleme is die gevolg van korrupsie, onbevoegdheid en swak politieke leierskap.
Hy het ’n herstelplan aangekondig met vyf hoofdoelwitte, wat die herstel van basiese diente, die beëindiging van korrupsie, die herstel van wet en orde en die ondersteuning van ekonomiese groei en werkskepping insluit.
Mashaba het kiesers aangemoedig om ActionSA te ondersteun en saam te werk om Johannesburg se ekonomie, veiligheid en dienslewering te herstel.