Die Grondwethof het beslis dat mans voortaan amptelik hulle vrouens se vanne mag gebruik en ook hul eie van met dié van hul vrou mag verbind.
Dié uitspraak bekragtig ‘n vroeëre uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein wat die saak na die Grondwethof verwys het om die grondwetlikheid daarvan te bevestig. Die hooggeregshof het verlede jaar beslis dat ‘n artikel in die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes ongrondwetlik is en op grond van geslag diskrimineer.
Die applikante in die saak: Jana Jordaan en Henry van der Merwe asook Jess Donnelley-Bornman en Andreas Nicolas Bornman het die hof genader om die betrokke artikel in die wet te betwis. Die saak het die simboliese gevolge uitgelig dat vrouens se identiteit ná ’n huwelik aan dié van haar man gekoppel word.