’n Baie skaars grootbekhaai het die afgelope naweek in die hawegebied van St. Helenabaai aan die Weskus uitgespoel.
Die grootbekhaai, oftewel die megamouth shark, is volgens die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing slegs die tweede aangetekende geval van dié spesie wat aan die Suid-Afrikaanse kus gevind is.
Personeel by die Pioneer Fishing-visfabriek het die haai Saterdag gewaar en die departement in kennis gestel.
Die bewaringskenner Ettienne Swanepoel het monsters van die karkas geneem, waarna die departement se navorsingspan gemobiliseer is om verdere monsters te versamel.
Die grootbekhaai leef normaalweg in die diepsee en is maklik herkenbaar aan sy enorme kop en kenmerkende rubberagtige lippe.
Die oorsaak van die haai se dood is nog onbekend.