Iran het die spot gedryf met die VSA president Donald Trump se opmerkings oor die vordering wat daar met die oorlog en die beheer in die Straat van Hormoez gemaak is.
Trump het vroeër gesê daar is “baie goeie en produktiewe gesprekke” gevoer om die konflik in die Midde-Ooste tot ‘n einde te bring.
Iran sê egter daar is geen samesprekings gevoer nie.
Die Iranese ambassade in Suid-Afrika het op sy sosiale media ‘n foto gedeel van ‘n kind se pienk stuurwiel op ‘n motor se paneelbord voor die passasiesitplek, wat ‘n bespotting maak van Trump se idee, dat hy die Straat van Hormoez, langs Iran se opperleier kan beheer.
Drie senior Israelse beamptes sê intussen dit blyk onwaarskynlik dat Iran tot die VSA se eise in enige nuwe onderhandelinge sal instem.