Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia het bevestig dat die twee Gupta-broers, Atul en Rajesh steeds deur Interpol gesoek word.
Hy sê in ’n geskrewe Parlementêre antwoord dat Interpol in 2022 ’n rooi kennisgewing vir hulle inhegtenisneming uitgereik het. Daar word vermoed dat die twee mans in Indië is.
Lees ook: AfriForum vra duidelikheid oor die Guptas
Volgens Cachalia wag Interpol se Nasionale Sentrale Buro vir die finalisering van die voorlopige aansoek vir ‘n amptelike versoek om hulle in hegtenis te neem en uit te lewer.
Dit vorm deel van wyer internasionale samewerking en prosesse.
Lees ook: Antwoorde geëis ná Zuma, Gupta-broer se Indië-besoek
Cachalia sê aangesien dié prosesse steeds aan die gang is, geen verdere inligting verskaf kan word nie.
Die Gupta-broers word in Suid-Afrika gesoek vir hulle aandeel aan beweerde staatskaping tydens oudpresident Jacob Zuma se bewind.