Teen 08:00 vanoggend is daar nog nie ’n enkele stembrief in ’n stemboks gegooi nie.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die Wes-Kaap sê dat 217 stemlokale in die Kaapstad-metro nie betyds geopen het vir spesiale stemme nie, weens vertragings met die aflewering van stembriewe.
Spesiale stemme word vandag en môre uitgebring, in die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing wat Woensdag plaasvind.
Gebiede wat geraak word sluit Milnerton en Langa in.
Die provinsiale kiesbeampte, Michael Hendrickse het om verskoning gevra vir die ongerief.
“Ten spyte van die beste pogings van die OVK en die drukkermaatskappy wat met die druk van die stembriewe belas is, was daar ’n onverwagte vertraging in die aflewering van spesiale stembriewe in sommige gebiede,” het Hendrickse gesê.
Hy sê dat werksaamhede by stemlokale in landelike gebiede glad verloop.
Meer as 2,6 miljoen stemgeregtigdes het aansoek gedoen vir spesiale stemme, waaronder bykans 300 000 in die Wes-Kaap goedgekeur is.