Die VF Plus gaan ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die parlement se etiekkomitee indien oor uitsprake van die MK-party se parlementslid, Andile Mngxitama, oor plaasaanvalle.
Dit volg nadat Mngxitama op sosiale media na bewering die aanval op die boer Donovan Marx, wat tydens ‘n plaasaanval vermink is, as ’n simboliese gebaar beskryf het omdat sogenaamde gronddiewe weier om te luister.
Die VF Plus se hoofsweep, Heloise Denner, beskuldig Mngxitama van haatspraak en sê sulke uitlatings kan nie deur ’n parlementslid gemaak word nie.
Die party eis dat die MK-party hom van die uitsprake distansieer en stappe teen hom doen.