Pretoria FM het die afgelope week ’n studiefonds bekendgestel wat ten doel het om Afrikaanse joernaliste op te lei. Die studiefonds sal aanvanklik studiehulp aan derdejaarstudente aan Akademia bied en ook aan die suksesvolle kandidate die geleentheid gee om praktiese ervaring by Pretoria FM op te doen.
Die stasiebestuurder van Pretoria FM, James Kemp, sê die media speel ’n belangrike rol om die publiek op te hoogte te hou van belangrike nuusgebeure.
“Veral nou, in ’n verkiesingsjaar, sien ons weer hoe belangrik die media is om politici aanspreeklik te hou vir die verkiesingsbeloftes wat hulle maak en om te verseker dat hulle hul gemeenskappe eerste stel.”
Yolandi Theron, die hoof van die Helpende Hand-studietrust, wat die studiefonds vir Pretoria FM sal bestuur, sê hulle het meer as 2 000 aansoeke vir die 2027-studiejaar ontvang.
“Daar is regtig soveel talentvolle en verdienstelike studente wat graag wil studeer, maar vir wie die finansiële uitdagings ’n struikelblok is. Die studietrust bied juis hierdie skakel tussen die student en die donateur om dan hierdie geleentheid by die student uit te bring.”
Theron sê wat haar opgewonde maak van die Pretoria FM-studiefonds, is die kombinasie van die befondsing en die praktiese ervaring wat dit bied.
“Studente kry die geleentheid om hulle studie by Akademia voort te sit, maar ook daardie waardevolle ervaring op te doen in die veld.”
Persone wat ’n skenking aan die Pretoria FM-studiefonds wil maak en op daardie wys ook wil bydra tot die uitbou van Afrikaanse media, kan ’n e-pos stuur na [email protected].
Donateurs sal ’n artikel 18A-sertifikaat vir hulle skenkings ontvang.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/10/NUUSWEEK-Uitgawe-90-30-Okt-2026.pdf