Walter Ernst
Die Tygerberg-hospitaal in die Wes-Kaap, in vennootskap met die Stellenbosch-universiteit, het vir die eerste keer in Suid-Afrika ’n volledige beenoordrag- en ledemaatverlengingsprosedure uitgevoer.
Die pasiënt is ’n 64-jarige man wat met chroniese pyn moes saamleef weens die verskil in die lengte van sy bene, nadat hy in 2018 geskiet is.
Ondanks verskeie operasies by ander gesondheidsorggeriewe het hy steeds gesukkel met chroniese pyn, ’n fraktuur wat nie genees nie en ’n beduidende verskil in die lengte van sy been wat sy lewensgehalte nadelig geraak het.
Chirurge het ’n 50 mm-beendefek gerekonstrueer en ’n 30 mm-verskil in ledemaatlengte herstel. Die interne toestel stel chirurge in staat om beenverplasing asook die daaropvolgende ledemaatverlenging te doen sonder enige buite-rame, wat gemak verbeter, komplikasies verminder en die hersteltyd verkort.
Die hoof van die universiteit se eenheid vir herkonstruksie, professor Nando Ferreira, sê die operasie verleen aan pasiënte ’n tweede kans om normaal te leef.
Die Tygerberg-hospitaal is nou een van slegs ’n handjievol mediese instellings wêreldwyd met die kundigheid om dié prosedure te kan uitvoer.
Fotokrediet: SABC-News-NHI