Elke jaar op 11 November vier Poolse burgers hul Nasionale Onafhanklikheidsdag; ’n belangrike openbare vakansiedag wat die land se terugkeer na soewereiniteit in 1918 herdenk, ná 123 jaar waartydens die land tussen Rusland, Pruise en Oostenryk verdeel was. Elke jaar neem duisende Pole deel aan ’n reuse-optog deur die strate van die hoofstad Warskou om Pole se soewereiniteit te herdenk. Dit was Woensdag ook weer die geval.
Oor die jare heen het dit ’n byeenkoms geword van hoofsaaklik konserwatiewe en regse partye en groepe wat kwessies bespreek wat verband hou met die beskerming van Pole se soewereiniteit, nasionale identiteit, Christelike geloof, en die Poolse taal, kultuur en tradisies in ’n tyd waarin identiteite in Europa toenemend vervaag.
Die gevolg hiervan is egter dat die Onafhanklikheidsherdenking ook begin het om ’n diepe verdelingslyn in Pole te ontbloot. Pole is toenemend ’n diepverdeelde land met ’n groot skeiding tussen die oostelike, landelike, nasionalisties-konserwatiewe en steeds baie tradisionele en gelowige Pole, en die toenemend sekulêre, meer globalistiese westelike gebiede; daarmee saam ook die groter stede soos Warskou en Krakow. Verkiesing ná verkiesing word hierdie verdeeldheid duideliker en skep dit groeiende politieke spanning.
Pole was die afgelope week of twee ook vir ál die verkeerde redes in die nuus gewees. Op 30 Oktober het ’n grondwetlike krisis uitgebreek toe ’n Poolse regter besluit het om die president en adjunk-president van die Poolse Grondwetlike Tribunaal te skors. Dít nadat die land se konserwatiewe president Karol Nawrocki sy grondwetlike reg uitgeoefen het om nié agt nuwe regters op die tribunaal, wat deur die huidige liberale regerende koalisie benoem is, in te huldig nie. Die tribunaal het sedert 2015 ’n konserwatiewe meerderheid toe beide die eerste minister en president van dieselfde konserwatiewe party afkomstig was. Karol Nawrocki is op 1 Junie verlede jaar met 50,08% van die stemme as Pole se president verkies.
Nawrocki staan egter reg teenoor die liberale Poolse eerste minister Donald Tusk. Tusk is sedert Desember 2023 eerste minister van Pole nadat hy daarin geslaag het om ’n koalisieregering van linkse en regse partye te vorm, ten spyte daarvan dat sy party tweede in die algemene verkiesing geëindig het. Nawrocki se verkiesing verlede jaar het dinge egter ernstig gekompliseer omdat daar nou ’n eerste minister en ’n president is wat op baie sake lynreg van mekaar verskil.
Verlede naweek op 7 November, het ʼn 24-jarige man, Michał Oksiński, eers sy ouers en 21-jarige suster doodgeskiet waarna hy met sy motor die besige Hoofmarkplein in die Poolse stad Krakow binnegejaag en willekeurig op voetgangers begin skiet het. Ses mense is doodgeskiet en nog 16 beseer. Die aanvaller het twee dae later in ’n hospitaal aan sy wonde beswyk. Die motief vir die aanval word nog ondersoek, maar dit is reeds duidelik dat dié jong man deur ander massamoorde in ander Europese lande beïnvloed is en dat hy selfs deur politieke kwessies geradikaliseer kon word. Sou dit waar wees spreek dit tot die vrees regoor Europa dat die dieperwordende politieke polarisasie toenemend ook tot radikalisering en geweld gaan lei.
Pole was tot aan die einde van 1980 ’n kommunistiese land, direk onder die invloed van die Sowjetunie. Dié land het dus in die 1990’s ’n demokratiese toekoms met ’n reuse-agterstand, diepe armoede en onderontwikkeling tegemoet gegaan. Sedertdien het Pole een van die beste voorbeelde in die wêreld geword van hoe vooruitgang ekonomies en maatskaplik geskep kan word.
In 1994 was die Poolse ekonomie die 40ste grootste ekonomie in die wêreld. Hoewel die land toe reeds, kort ná die einde van kommunisme, sterk ekonomiese groei getoon het, was dit steeds een van die armste lande in Europa. Vandag is Pole die wêreld se 21ste grootste ekonomie, en vergelyk die land se BBP per capita goed met van die hoër inkomstelande in die wêreld a.g.v. die lae lewenskoste in Pole.
Terwyl Poolse arbeiders in die 1990’s en vroeë 2000’s in groot getalle, eers na Brittanje, en daarna – nadat Pole in 2004 deel van die Europese Unie geword het – ook uitgewyk het na ryk Wes- en Noord-Europese lande, het verskeie weer in groot getalle die afgelope paar jaar begin terugkeer.
Vandag is Pole een van die vinnig-groeiende ekonomieë in Europa en op die punt om Switserland as 20ste grootste ekonomie ter wêreld verby te steek. Die Verenigde Koninkryk het onlangs voorgestel dat Pole by die G20 ingesluit word.
Pole het die afgelope paar jaar ook die voortou geneem met militêre ontwikkeling in Europa en spandeer by verre tans die meeste op verdediging van alle Navo-lidlande as persentasie van hulle BBP.
Aan die een kant voel baie Pole egter steeds soos ’n soort Europese stiefkind in Oos-Europa wat dikwels deur Duitsland, Frankryk, Italië en die VK by belangrike gesprekke uitgesluit word. Die groter krisis in Pole is egter die vraagstuk oor hoe die land die toekoms moet benader.
Pole het baie minder immigrante as ander Wes-Europese lande en die meeste immigrante is Oekraïners wat ’n positiewe bydrae lewer. Met ’n baie lae bevolkingsaanwas en dalende bevolking wil liberale groepe meer immigrante toelaat.
Daarmee saam is daar ook druk op Pole om van baie van sy tradisionele waardes afstand te doen om uiteindelik beter by Wes-Europa in te pas. Die land is letterlik in die middel verdeel oor hierdie en ander kwessies. En hierdie verdeling en politieke krisis verdiep by die dag. Volgende jaar moet ’n algemene verkiesing in Pole plaasvind en die uitslag daarvan sal waarskynlik die toekoms van die land vir baie lank diepliggend raak.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/11/NUUSWEEK-Uitgawe-93-13-Nov-2026.pdf