Die minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina het waterbeperkings aangekondig vir huishoudings en landbou-besproeiingstelsels in die Wes-Kaap.
Majodina sê dat die beperkings ten doel het om te verhoed dat krane droogloop, nadat laer reënval as wat verwag is in die winter aangemeld is.
Majodina het op ’n nuuskonferensie by die parlement aangekondig dat dié provinsie deur beperkings van 7% op sy watertoekennings in die gesig gestaar sal word, terwyl boere se watertoekennings met 15% verminder sal word.
Waterhulpbronne in die Wes-Kaapse waterverskaffingstelsel is tydens die vergadering hersien met die hulp van ’n waterhupbronnemodel.
Dié beperkings sal eers in werking gestel word sodra die besluit in die Staatskoerant gepubliseer is.
Die departement sê dat die waterbeperkings ’n voorsorgmaatreël is, en nié ’n aanduiding is dat die situasie reeds rampvlakke bereik het nie.