Onwettige handel kos Suid-Afrika jaarliks minstens R68 miljard aan belasting en bedreig meer as 87 000 regstreekse werkgeleenthede wat na raming oor 12 sektore heen belemmer word.
Volgens Business Leadership South Africa se jongste verslag word driekwart van alle sigarette plaaslik onwettig verhandel, wat British American Tobacco (BAT) noop om sy laaste Suid-Afrikaanse aanleg in Heidelberg vanjaar te sluit.
Nagemaakte medisyne, alkohol én klere het óók ’n verwoestende uitwerking op verskeie sektore.
Dit hou nie net veiligheidsrisiko’s vir verbruikers in nie, maar ondermyn ook ondernemings wat belasting betaal en aan gehaltevereistes moet voldoen.
Die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, het óók ’n nuwe opsporing- en naspeurstelsel bekendgestel wat vervaardigers verplig om unieke kodes op produkte aan te bring.