Die Tshwane-metro stel van vandag af vlak-twee-waterbeperkings in werking om druk op Rand Water se voorraadstelsel te verlig.
Die metro se waterverbruik het sedert September weekliks toegeneem en is tans 34% bo sy permanente watertoewysing.
Die Tshwane-metro moet sy verbruik met 200 miljoen liter per dag verminder.
Die Tshwane-metropolisie sal inspeksies by gebiede met hoë waterverbruik uitvoer.
Inwoners wat die beperkings oortree, kan boetes van minstens R5 000 opgelê word en strafregtelik vervolg word.
Inwoners word onder meer verbied om tuine met munisipale drinkwater nat te lei, voertuie met ’n tuinslang te was of swembaddens met munisipale water vol te maak.
Hoër watertariewe sal ook geld.
Die beperkings sal aanvanklik vir 30 dae van krag wees.