Die werkloosheidsyfer het in die vierde kwartaal van 2024 effens gedaal van 32,1% in die derde kwartaal tot 31,9%.
Die werkloosheidsyfer is vanoggend deur Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak. Luidens dié data was daar in die laaste deel van 2024 132 000 méér werknemers, wat die totale werksmag in Suid-Afrika tot 17,1-miljoen gebring het.
Volgens die SSA was daar 20 000 minder werklose mense, wat die totaal tot op 8-miljoen te staan bring.
Ontmoedigde werksoekers het met 3,3% tot 111 000 gestyg. Die uitgebreide werkloosheidsyfer het in die vierde kwartaal onveranderd gebly teen die derde kwartaal met 41,9%.