Die DA in Gauteng het ‘n ope brief aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin dié party ‘n versoek op die president doen om dringend in te gryp om Johannesburg te red.
In dié skrywe vra die party se leier in Gauteng, Solly Msimanga dat sulke optrede langtermyn volhoubare groei en werkskepping in Johannesburg in besonder – en Gauteng in die algemeen – as ‘n doelwit moet hê. Hy meen die stad en Gauteng verval weens korrupsie deur die ANC “wat eerder bekommerd is oor die voordeel wat dit vir hulle beursies inhou, as die kwessies wat die inwoners raak.”
Tesame met dié ope brief het die DA ook ‘n voorgestelde reddingsplan uitgereik om Johannesburg reg te ruk.
Dié optrede van die DA kom nadat Ramaphosa tydens ‘n oorsigbesoek sy ongelukkigheid uitgespreek het oor die agteruitgang van die Goudstad.
Volgens Msimanga het Ramaphosa persoonlik aan die provinsie se premier, Panyaza Lesufi en die Johannesburgse burgemeester Dada Morero die opdrag gegee om seker te maak dat die stad en Gauteng gereed is om later vanjaar die G20-beraad te kan aanbied.
“Dit is jammer dat Ramaphosa eers aandag aan die situasie skenk wanneer ‘n beraad in Gauteng aangebied gaan word. Inwoners is reeds die afgelope 25 jaar ongelukkig oor die verval van die provinsie, jy moes dit al lankal agterkom.”
