Die DA se woorvoerder oor finansies in die Tshwane-metro, en voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jacqui Uys, vra dat ‘n ondersoek na veiligheidsmaatskappye versnel moet word.
Uys se versoek kom nadat sy bekend gemaak het dat haar opvolger, Eugene Modise vermoedelik noue bande met ‘n onderneming het wat sake met die raad doen.
Uys sê Triotic Protection Services – wat ‘n kontrak het om jaarliks drie-honderd-miljoen-rand se veiligheidsdientse aan die raad te lewer – het ‘n geregistreerde adres wat ooreenstem met Modise se ma, Nelly Modise s’n.
Dié onderneming se personeelbestuurder is ook glo die ma van Modise se kind.
Uys sê dat die onderneming ook geld aan die inkomstediens verskuldig is wat gevaarligte laat flikker oor ‘n klaringsertifikaat toe die tender toegeken is.
Uys het tydens ‘n perskonferensie gevra dat die verslag van só ‘n ondersoek dringend aan die rekeningekomitee voorgelê word.
Foto: SABC Elections