Fluitjieblasers by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg sê daar is sedert verlede week ‘n voedseltekort en dat daar in sekere dele van die hospiotaal nie warm water is nie.
Hulle sê pasiënte wat nie in staat is om self kos te koop nie moes familielede vra om tydens besoektye kos te bring.
‘n Woordvoerder van die Gautengse gesondheidsdepartement, Motalatale Modiba, het erken dat daar probleme met die verskaffingsketting was, maar sê dat dit uitgestryk is en dat pasiënte nooit honger gely het nie.
Volgens ‘n berig in die Daily Maverick het sommige pasiënte glo gevra om ontslaan te word weens hongerte. ‘n Anonieme gesondheidswerker het aan die nuusdiens gesê dat talle pasiënte nie medisyne kon kry nie omdat hulle dit nie op ‘n leeg maag kon neem nie.
Volgens die DA se skadu-LUR vir gesondheid, Jack Bloom, is dit baie verdag dat dié hospitaal se gekontrakteerde verskaffers in Limpopo en die Vrystaat gesetel is.
Bloom meen die uitvoerende hoof van die hospitaal, Gladys Bogoshi, moet afgedank word.