Esmarie Yssel
Australië se eerste minister, Anthony Albanese het die skietvoorval op Sydney se gewilde Bondi-strand as ’n aanval op Joodse Australiërs – op die eerste dag van Hanukkah – beskryf.
Elf lede van die publiek is oorlede en minstens 29 – insluitend twee polisiebeamptes – is beseer toe twee aanvallers op die Joodse gemeenskap wat ter viering van Hanukkah byeengekom het losgebrand het.
Albanese het helde vanuit die burgerlike gemeenskap vir hul dapperheid bedank.
’n Video doen tans die rondte van ’n lid van die publiek wat op een van die skieters afgestorm en hom ontwapen het.
“Daar is geen plek vir haat, geweld en terreur in hierdie land nie. Laat ek dit baie duidelik stel, ons sal dit uitroei,” het Albanese gesê.
Een van die vermeende skieters is gedood en die tweede is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.