Luister nou

Beverley is terug!

Deur Pretoria FM Nuusspan

Esmarie Yssel

Nieu-Bethesda se Beverley, die gewilde winkelpopkunsinstallasie – wat Saterdagaand 8 November ten tyde van die Springbokke se wedstryd teen Argentinië voete gekry het – is ongedeerd terug by die huis in haar pragtige dammetjie op die Doornbergpad.

Die plaaslike gemeenskap was rasend van kommer en Nieu-Bethesda-toerisme het ’n vriendelike versoek gerig dat sy aan hul kleurryke dorpie terugbesorg word. Beverley se ontvoering asook die soektog na haar het soos ’n veldbrand oor die land heen versprei.

Pretoria FM kan egter bevestig dat sy nie gesteel is nie.

Twee konstruksiewerkers, Quentin Potgieter en Morné van Zanten, het na die nuuskantoor by Pretoria FM uitgereik om die storie agter die storie te deel.

“Ons het die Saterdag besluit om te gaan rugby kyk in Nieu-Bethesda. Ons het al voorheen daar gaan rugby kyk en geweet van Beverley. Die plan was om laf te wees, haar op te laai en in ’n ander dam te gaan neersit. Sy het agterop die bakkie gerus terwyl die rugby aan die gang was, maar een van ons kollegas het toe vroeër teruggekeer huis toe en is vort saam met Beverley agterop die bak, sonder dat hy geweet het. Toe ons die volgende oggend sien watter bohaai daar aan die gang is oor Beverley wat weg is, toe besef ons sy is gewilder as Charlize Theron en ons besluit toe dat ons iets groots hiervan moet maak,” vertel Potgieter.

Potgieter en Van Zanten het daaropvolgens ’n sloertoer deur die Karoo saam met Bev, soos hulle na haar verwys, beplan, en die onbaatsugtige uiteindelike strewe was liefde, want sien, die Royal-hotel op Steytlerville het ’n manlike mannekyn, genaamd Joseph, en hulle wou dié twee by mekaar uitbring. Die tweede doelwit was om aan die karaktervolle winkeltjies langs die pad blootstelling te gee deur Bev daar te laat uitklim vir ’n kiekie.

Van Zanten sê hulle het vir ’n jaar in Steytlerville gewerk en het daarom besef hoe nodig die klein dorpies die publiek se ondersteuning het.

“Ons het dit goed gedink om hierdie beroemde Beverley op reis te vat en blootstelling te gee aan al die hardwerkende mense in die Karoo so kort voor Desember. Ek dink min mense weet eintlik hoe mooi ons land is, veral die Karoo, en ons het net gedink dis ’n goeie tyd van die jaar om die omgewing se bekoring te bemark.”

Die mans – wat oorborrel met lewenslus en grappe – het wel vir hulle ’n perd van ’n ander kleur opgesaal, want die missie – gedoop Mission Bev en Jo – het goeie beplanning en harde werk geverg.

Hulle het selfs vir haar ’n groen en wit somersrokkie aangeskaf, omdat die oranje tweestuk “nie gepas vir die langpad sou wees nie”. En die aantrek het op sy eie gesorg vir vermaak, want die pop moes heeltemal uitmekaargehaal word, omdat haar stokstywe bene en arms nie ontwerp is om gereeld aan en uitgetrek te word nie. En boonop kon sy nie in een stuk in die toervoertuig pas nie.

Die sloertoer het in Graaff-Reinet begin, maar hulle het onder meer ook in Jansenville, Klipplaat en Steytlerville aangedoen voordat hulle in Nieu-Bethesda geëindig het.

Daar aangekom het hulle vir ’n paar uur op ’n koppie gewag vir die kleurryke dorpie om sy slaapsluier oor te trek, sodat hulle Beverley suutjies in die dam kon terugplaas.

Langs die dam is daar vir die kunstenaar, Ryno Greeff, wat in Beverley se poplewe opwindende meerminlewe geblaas het, ’n geskenkpakkie gelos met haar reisrok daarin, “sou sy in die wintermaande uit die water wou klim”, en ’n T-hemp waarop daar staan: “Mission Bev en Jo. Nieu-Bethesda weet nie wat ons weet nie”.

Die romantiese belangstelling tussen Bev en Jo het wel nie geblom nie, omdat Jo deur motorfietsryers beskadig is, maar Potgieter en Van Zanten meen elke stukkie deeglike beplanning was die moeite werd.

“Dit was bietjie teleurstellend dat ons nie geweet het dat Joseph agter ’n motorfiets vasgemaak en gesleep is nie, want ons wou hulle aan mekaar voorstel, maar dit was ’n heerlike avontuur en die manier waarop mense ons ontvang het toe hulle agtergekom het waarmee ons besig is, het ons gelukkig gemaak,” vertel Potgieter glimlaggend.

Greeff het by navraag gesê hy’s baie verlig dat Beverley veilig terug is ná haar toer deur die Karoo.

“Dit was ’n groot verrassing dat sy so ’n gewilde aantrekking geword het en die gegons wat dit veroorsaak het toe sy weggeraak het, was ook verblydend. Nou kan sy weer toeriste en Camino-stappers in die verbygaan vermaak nét daar waar sy staan. Nou het sy nóg ’n storie by.”

Foto’s: Quentin Potgieter en Morné van Zanten

Gewilde Nuus

Bergview

Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat

BKS-inenting

Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Medies - Netwerk24

Raad van Gesondheidsorgfinansiers vra hervorming

Siviwe Gwarube

Implementering van handboekkatalogus duur voort ondanks haakplekke

Fotokrediet: CBS

Die wit bevolking in Suid-Afrika is besig om te krimp

Ander Nuus Artikels

horses vs bikes 4
NDBV gryp in by perde-teen-motorfietse-uitdaging
Afrikaner-vlugtelinge
Trump-regering wil tot 17 500 Afrikaner-vlugtelinge in VSA toelaat
Fotokrediet: Netwerk24
15 Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig
Bergview
Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat
BKS-inenting
Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Luister nou