Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake skryf in ’n verslag oor Suid-Afrika dat die menseregtesituasie in die land die afgelope jaar beduidend versleg het met onder meer die ondertekening van die Onteieningswet in Desember 2024.
Die verslag is deur die Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid binne die departement saamgestel.
In dié verslag word gesê dat die regering nie geloofwaardige stappe gedoen het om amptenare wat hulself aan menseregtevergrype skuldig maak — insluitend opruiende rasseretoriek teen Afrikaners en ander minderheidsgroepe of geweld teen rasseminderhede — te ondersoek, te vervolg of te straf nie.
Die verslag verwys na onder meer Veiligheid en Geweld, Vryheid van Uitdrukking en Media asook Arbeidsregte en Werkstoestande.
Die Suid-Afrikaanse regering word ook gekap oor die sing van die lied, Kill the Boer.
“Volgens data wat deur Agence France-Presse saamgestel is, was daar tussen Oktober 2023 en September 2024 447 moorde op plase en kleinhoewes. In die afgelope jare het die ekstremistiese politieke party, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) aanvalle op Afrikanerboere aangemoedig deur die sing van die lied, “Kill the Boer” by hul byeenkomste,” lui die verslag.
Die ideesentrum en voorspraakgroep, Lex Libertas, het die verslag verwelkom.
Dr. Ernst Roets, die uitvoerende direkteur van Lex Libertas, sê die verslag kom tot die gevolgtrekking dat Afrikaners geteiken word as gevolg van die verbrokkeling van menseregte.
Roets het Washington D.C. verlede maand namens die voorspraakgroep besoek, waartydens hy verskeie vergaderings met belanghebbendes in die Amerikaanse regering, politici, navorsers, media-afsetpunte en poduitsendings gehou het.
Vir die doel van die besoek het Lex Libertas ‘n verslag, getiteld: “Reclaiming Freedom” gepubliseer waarin aangevoer word dat die krisis in Suid-Afrika op drie vlakke manifesteer: ‘n vernietigende beleidsraamwerk, algehele staatsmislukking en die vervolging van minderhede.
“Ons is geensins gelukkig oor die krisis in Suid-Afrika nie. Trouens, ons moet doen wat ons kan om ‘n verswakking van die situasie te voorkom. Ons is egter bly dat die Amerikaanse regering die krisis erken, want erkenning is die eerste stap om ‘n oplossing te vind,” sê Roets.