Die burgerregteorganisasie AfriForum het 1 Desember amptelik as wêreldwye dag teen plaasmoorde verklaar.
Volgens AfriForum sal die dag voortaan jaarliks daaraan toegewy word om slagoffers van plaasmoorde en -aanvalle te herdenk, hul naasbestaandes te ondersteun en internasionale aandag op die voortgesette geweld teen landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te vestig.
Dié datum is gekies ter nagedagtenis aan die 2-jarige Wilmien Potgieter, wat op 1 Desember 2010 saam met haar ouers, Attie en Wilna, op hul plaas in die Vrystaat vermoor is.
Volgens AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, poog die inisiatief om die voortslepende krisis van landelike terreur wêreldwyd onder die soeklig te plaas sodat slagoffers nie net syfers bly nie.
“Wilmien was maar net twee jaar oud. Haar lewe is wreed beëindig nog voordat dit behoorlik begin het. Haar dood – en dié van talle ander slagoffers van plaasmoorde – mag nooit vergeet of bloot tot statistiek gereduseer word nie. Hierdie dag gaan daaroor om hul name en lewens te onthou en om die werklikheid van plaasgeweld onder die aandag van Suid-Afrikaners én die internasionale gemeenskap te bring,” sê Broodryk.
Die publiek word aangemoedig om op dié dag wit klere of ’n wit kruisie te dra as simbool van herinnering en solidariteit met slagoffers en hul naasbestaandes.