Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê vordering word gemaak met die verwerking en ouditering van stemuitslae ná gister se plaaslike regeringsverkiesing, maar beklemtoon dat die proses nog nie afgehandel is nie.
Die OVK se kommissaris, Sy Mamabolo, het tydens ’n mediakonferensie by die Gallagher-konferensiesentrum gesê sowat 35 persent van die verwagte 66 073 uitslagstrokies is reeds verwerk. Altesaam 34,8 persent is geskandeer en verwerk, terwyl 25 persent van die stemme reeds geoudit is.
Mamabolo sê die stemme word by die onderskeie stemlokale getel, waarna uitslagstrokies na plaaslike uitslae-sentrums vervoer word vir verdere verwerking en ouditering.
Die proses sluit ook die ondersoek na moontlike abnormaliteite in elke wyk in voordat die uitslae finaal verwerk kan word.
Hy het kiesers, politieke partye en kandidate versoek om geduldig te wees en nie ongeverifieerde inligting oor die verkiesingsuitslae te versprei nie.
Die OVK waarsku dat enige probleme met uitslagstrokies eers opgelos moet word voordat die betrokke uitslae as finaal beskou kan word.
Volgens Mamabolo het die kommissie sewe dae om die uitslae te verwerk en bekend te maak.
Die finale uitslae sal na verwagting nie voor môre om vyfuur die middag bekend wees nie.
Kiesers kan die uitslae op die OVK se webtuiste en selfoontoepassing volg. Opdaterings is ook op die kommissie se WhatsApp-kanaal by 0600 88 00 00 beskikbaar.
Die OVK se volgende mediainligtingsessie is vir vanmiddag om vieruur geskeduleer.