“Wanneer vals bewerings deur die media of op sosiale media herhaal word, kan dit reputasies, loopbane en lewens vernietig.”
Só sê die voormalige hoof van Bergview College, Jaco Pieterse in ’n klankopname wat betroubaar onder Pretoria FM se aandag gebring is, wat gereageer het op die aankondiging deur AfriForum se privaat vervolgingseenheid dat hulle, onder leiding van adv. Gerrie Nel, strafregtelike klagte van naamskending teen die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sal aanhangig maak.
Mbalula het op 1 April 2025 ná ’n ANC-vergadering ’n toespraak gelewer waarin hy Pieterse as ’n “dier” beskryf en gesê dat AfriForum ’n dier beskerm.
Pieterse sê dat dié ongetoetste bewerings ’n ingrypende invloed op sy lewe gehad het.
“In my geval het die bewerings nie net my loopbaan beëindig nie, my vrou moes ook haar onderneming sluit. Die verklarings wat in die media gemaak is, het ernstige en blywende skade aan my reputasie, my gesin en ons vriende veroorsaak,” sê Pieterse.