Die leier van die Britse Arbeidersparty, Andy Burnham is vandag ingehuldig as Brittanje se sewende eerste minister in tien jaar.
Ná Keir Starmer se bedankingstoespraak buite Downingstraat 10, het Koning Charles III Burnham gevra om voortaan as eerste minister te dien.
Burnham het in sy eerste toespraak gesê die tyd het aangebreek vir Brittanje om vir die wêreld te wys dat hy sy politieke stabiliteit kan herwin. Hy het gesê die uitdaging is om politiek te laat werk en dit beter te laat werk.
Volgens Burnham sal hy toesien dat die grootste veranderings van die afgelope 40 jaar aangebring word en dat politiek aangewend moet word vir probleemoplossing, nie om punte te wen nie.
Burnham sal later vanjaar ’n tienjaarroetekaart vir Brittanje bekend maak waarmee hy die eilandnasie in die rigting wil stuur waar hy móét wees.
Onmiddellike stappe sal onder meer werksgeleenthede vir jongmense, veranderings aan die skoolstelsel en meer staatsbehuising insluit.
Burnham het voor die skare gesê die sorg van mense sal die kern van alles wat hy aanpak wees en dat hy alles moontlik sal gee, maar dat die burgers se steun nodig het.