Luister nou

Taakspan om bek-en-klouseer te takel 

Deur Pretoria FM Nuusspan

Walter Ernst en Esmarie Yssel

President Cyril Ramaphosa het tydens sy byna twee-uur-lange Staatsrede bekend gemaak dat ’n taakspan in die lewe geroep sal word om die oorhand oor die bek-en-klouseer-krisis in die land te kry.  

Die president het toegegee dat dit die ergste uitbreking van dié siekte is wat die land nóg ervaar het, wat nie net kuddes vernietig nie, maar ook die ekonomie skade berokken.  

Die taakspan sal uit landbou-organisasies en kenners saamgestel word en saam met die minister van landbou, John Steenhuisen, werk en die vordering moet elke maand aan die president gekommunikeer word.   

President Ramaphosa het gesê dat die land se 14 miljoen beeste ingeënt sal word en dat sowat 28-miljoen entstofdosisse oor die volgende 12 maande daarvoor nodig sal wees.  

Die president staan steeds by die gesentraliseerde verspreiding van entstowwe om te verseker dat die korrekte entstowwe vir die spesifieke stam van die siekte aangekoop word. Daar sal egter nou saam met die privaat sektor en georganiseerde landbou gewerk word om te verseker dat die entstof almal bereik.  

President Ramaphosa het ook ánder punte tydens sy Staatsrede aangeraak: 

Misdaad  

  • Die president het aangekondig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Gauteng en die Wes-Kaap ontplooi sal word om bendegeweld en onwettige mynbedrywighede hok te slaan.  
  • Ramaphosa sê die Madlangakommissie en die ad hoc-komitee het omvangryke korrupsie in die polisie en metropolisie blootgelê. ’n Taakspan gaan gestig word om die korrupsie te ondersoek. Leefstyloudits sal voortaan op senior polisiebeamptes gedoen word.  Die strafregstelsel sal voorts in sy geheel versterk en hervorm word.  Ramaphosa het sterk uitgevaar teen georganiseerde misdaad en misdaadkartelle wat volgens hom voortaan deur middel van tegnologie, gevorderde intelligensie en streng wetstoepassing die nekslag toegedien sal word.  
  •  Ramaphosa het gesê die regering sal maatreëls bespoedig om fluitjieblasers te beskerm. Hy’t gesê dis onaanvaarbaar dat diegene wat korrupsie blootlê in vrees leef, geviktimiseer, geteiken en vermoor word. Die Wet op die Beskerming van Fluitjieblasers sal  sal deur die parlement ingestel word. Dié wet is egter reeds ván verlede jaar af ’n besprekingspunt wat reeds in die parlement ter tafel gelê moes word. 

Water  

Hy het R165 miljard oor drie jaar bewillig vir water en infrastruktuur. Nagenoeg R54 miljard gaan aan metro’s beskikbaar gestel word om waterinfrastruktuur op te knap en te onderhou. Die minister van water en sanitasie en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake is opdrag gegee om aandag te gaan skenk aan die waterprobleme in Gauteng. Nuwe damme gaan gebou en infrastruktuur gaan opgradeer word om watersekerheid te verseker. R156 miljard is vir water- en sanitasie-infrastruktuur oor die volgende drie jaar opsygesit. ’n Nasionale waterhulpbronagentskap sal ook binnekort op die been gebring word.

Kragvoorsiening 

Ramaphosa het aangekondig dat die nasionale kragvoorsiener, Eskom geherstruktureer sal word en dat ’n ten volle onafhanklike staatsbeheerde transmissie-entiteit gestig sal word.   

Hy meen dat die koste van elektrisiteit afgedwing kan word, nadat veranderings in die sektor aangebring is wat son- en windkrag betref.  

Hy is van mening dat meer as 40% van die land se kragvoorsiening teen 2030 van goedkoop, skoon en hernubare energiebronne sal kom.  

“Gegewe die belangrikheid van hierdie herstrukturering vir die breër hervorming van die elektrisiteitsektor, het ek ’n toegewyde taakspan onder die Nasionale Energiekrisiskomitee aangestel om verskeie kwessies rakende die herstruktureringsproses die hoof te bied, insluitend duidelike tydraamwerke vir die implementering daarvan,” het Ramaphosa gesê.  

Die taakspan sal binne drie maande aan die president verslag doen.  

Daar sal glo ook vanjaar begin word met die eerste rondte van onafhanklike transmissieprojekte om die nasionale netwerk uit te brei.  

Fotokrediet: Pieter Uys

Gewilde Nuus

Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Senzo Mchunu - The Witness

Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Fotokrediet: Checkatrade

Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel

Siviwe Gwarube - Daily Maverick

Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Israelse vlug - France 24

Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug

Ander Nuus Artikels

Willie Spies
VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026
Fotokrediet: The Citizen
Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe
Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves
Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam
Senzo Mchunu - The Witness
Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Luister nou