Esmarie Yssel
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ’n mensejag van stapel gestuur na die sluipmoordenaar wat een van die Madlanga-kommisie van Ondersoek se getuies, Marius van der Merwe, gisteraand koelbloedig doodgeskiet het.
Van der Merwe, ook bekend as Vlam en voor die Madlanga-kommissie as Getuie D, is buite sy woning in Brakpan voor sy vrou vermoor.
Die SAPD het bevestig dat hulle ’n span saamgestel het om die sluipmoordenaar asook die persoon agter die sluipmoord en die AK47 wat in die moord gebruik is op te spoor.
Verskeie polisie-eenhede, insluitend ballistiese en misdaadtoneelspesialiste, misdaadintelligensiebeamptes en lede van die ernstige en geweldsmisdaadeenheid was tot vroeg vanoggend op die toneel om dit vir bewysstukke te fynkam. Die polisie het bevestig dat ’n AK47 in die uitvoer van die moord gebruik is.
Volgens voorlopige inligting het Van der Merwe kort ná 20:30 by sy woning aangekom en is hy in sy bolyf geskiet terwyl hy besig was om die hek oop te maak. Hy is op die toneel dood verklaar.
Sy vrou is fisiek ongedeerd en niks, nie Van der Merwe se vuurwapen, selfoon of beursie, wat aan hom was, is gesteel nie.
’n Saak van moord is geopen.
Die Nasionale Polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola sal regter Mbuyisela Madlanga op hoogte hou van die ondersoek na die moord.
Masemola het reeds aan die nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestruktuur, NatJoints, die opdrag gegee om veiligheidsmaatreëls vir alle rolspelers in die Madlanga-kommissie, insluitend amptenare en getuies, op te skerp.
Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het hul diepe hartseer met die “wrede moord op Van der Merwe” uitgespreek en erkenning gegee aan sy bydrae tot die oopvlek van ernstige bewerings van misdadigheid en korrupsie in die Ekurhuleni-metro en dié metro se polisiedepartement.
Reaksie
Die MK-party het Van der Merwe se moord in ’n sterk bewoorde verklaring veroordeel.
“Die uMkhonto weSizwe-party spreek sy diepe en onomwonde verontwaardiging uit oor die brutale skietdood van ’n getuie wat voor die Madlanga-kommissie verskyn het. Die MK-party betuig ons innige meegevoel aan die familie van die slagoffer ná die traumatiese ervaring waaraan hulle brutaal blootgestel is gedurende hierdie gewelddadige voorval,” het die party se nasionale woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela gesê.
“Hierdie daad van brutaliteit moet gesien word as ’n nasionale noodtoestand en ’n ontnugterende aanklag teen die sogenaamde Regering van Nasionale Eenheid se katastrofiese versuim om getuies, fluitjieblasers en alle individue wat na vore tree ter verdediging van die waarheid en geregtigheid, te beskerm.”
Die Forum vir Suid-Afrika (FOSA) het ook die moord in die sterkste moontlike terme veroordeel en trek sterk te velde teen die Madlanga-kommissie oor sy mislukking om getuies se veiligheid te verseker.
“Met die saak nog vars en onder aktiewe ondersoek, is dié gebeure uiters ontstellend en laat dit ernstige kommer ontstaan oor die veiligheid van ander getuies wat nog voor die kommissie moet verskyn. Met inagneming van die miljoene rand wat aan die kommissie bestee is, glo FOSA dat behoorlike en genoegsame aandag en hulpbronne aan die beskerming van getuies gekanaliseer moes wees.”
ActionSA se LP, Dereleen James, het gesê die party is gewalg deur die moord en het ook klem gelê op die noodsaak om getuies voor die Madlanga-kommissie sowel as die parlementêre ad hoc-komitee na behore te beskerm.
“Hierdie moord is nóg ’n onmiskenbare teken van Suid-Afrika wat in ’n mafiastaat verval het,” het James gesê.