9 Junie 2023
Pippie Kruger, die dogtertjie wie se storie in 2011 wêreldwyd opslae gemaak het, vier vandag (9 Junie 2023) haar 14de verjaarsdag.

Pippie was twee jaar oud toe ‘n bottel vuuraansteekgel by die Kruger gesin se huis in Lephalale (Ellisras) ontplof het. Sy het derdegraadse brandwonde oor die grootste deel van haar lyf opgedoen. Die brand het ook breinskade veroorsaak, wat beteken sy kan nie maklik loop of praat nie.
Sy moes tot dusver 62 operasies ondergaan.
Haar ma, Anice Barnard Kruger het op haar Facebook-blad geskryf dat Pippie vandag 14 jaar oud is, en dat sy steeds sprakeloos haar is.
“Jy is die gelukkigste dogtertje in die hele wêreld. Jy lag net en maak alles beter. Jy is nou n regte tiener, jy is beeldskoon pragtig perfek.”
Solidariteit Helpende Hand het op hulle Facebook-blad ook ‘n gelukwensing met foto’s aan Pippie gerig. Hulle beskryf haar as een van hulle erelede.
“Pippie en Anice het die afgelope jare diep spore in die harte van mense oor die wêreld getrap. Vandag getuig haar sonskynglimlag dat daar lig aan die einde van ʼn donker tonnel is, al is alles nie altyd maanskyn en rose nie.”
Foto’s: Anice Barnard Kruger (Facebook)