Luister nou

Wat maak Kuba dan daar?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 29 Maart 2022

Deur: Werner Human

Daar kan selde gesê word dat die bilaterale betrekkinge met Kuba suiwer en binne diplomatieke belange gevoer word. Menige berigte sien die lig wat daarop dui dat politieke sentiment eerder as landsbelang die ware dryfveer agter die verhouding tussen die Suid-Afrikaanse regering en Kuba is.

Hierdie opvatting is deur die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, bevestig in haar reaksie op AfriForum se suksesvolle aansoek om ʼn tussentydse interdik te bekom teen R50 miljoen se humanitêre hulp aan Kuba, toe sy gesê het: “Geen hoeveelheid geld kan vir die opofferings vergoed wat die Kubane vir ons vryheid gemaak het nie.”

Hierdie ongebreidelde stelling het al gesorg vir wankelende ooreenkomste en onverantwoordelike besteding van belastinggeld. Mees onlangs het die ouditeur-generaal bevind dat R1,4 miljard vermors is in twee kontrakte met Kuba om weermagtoerusting te diens en om opleiding aan Suid-Afrikaanse soldate te gee. Die ouditeur-generaal het ook kapsie gemaak teen R260 miljoen se ongeregistreerde Kubaanse medisyne wat onregmatig deur die Suid-Afrikaanse weermag ingevoer is.

Nòg ʼn skandalige vermorsing is die Departement van Water en Sanitasie wat R65 miljoen betaal het vir Kubaanse spesialiste wat op provinsiale en plaaslike regeringsvlakke ontplooi word om “die probleme met die waterinfrastruktuur te help oplos en hulle ervaringe te deel”. Dít terwyl meer as 50% van beskikbare water in Kuba verlore gaan weens stukkende dreineringstelsels, lopende water in stede slegs een maal in vyf dae vir ʼn paar ure lank vloei, en inwoners genoop is om watertenks by hul wonings te installeer en die water te reinig deur chemikalieë en visse in die tenks te gooi om die risiko van gekontamineerde water te verminder.

Die teenstrydighede in hierdie ongesonde betrekkinge met Kuba is ooglopend. Waarom word daar nie van die sukkelende Denel se dienste gebruik maak om weermagtoerusting te diens nie? Waarom word daar nie kapasiteit geskep vir plaaslike medisynevervaardiging nie? Waarom word die dienste van ʼn mislukte staat ingetrek om ons string waterkrisisse te probeer oplos terwyl ons oor bekwame ingenieurs beskik wat in die land beskikbaar is? Nog verdere sout in die wonde is die regering se besluit in 2010 om R1 miljard se skuld van Kuba aan Suid-Afrika te kanselleer.

Die antwoord lê in Pandor se stelling dat “geen hoeveelheid geld” vir die historiese opofferings van die Kubane kan vergoed nie.

Pandor se reaksie strook tog wel met die ANC se hantering van ʼn skandaal, waar dit herinner aan die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, se verdediging van die projek van R430 miljoen om leë skoolbanke te saniteer, en waar hy daarop antwoord: “Ons gaan nie om verskoning vra omdat ons omgee vir die welstand en gesondheid van ons leerders nie.”

Die Suid-Afrikaanse regering se benadering druis lynreg in teen die oogmerk van diplomatieke verbintenisse tussen lande. Die historikus Niall Ferguson meen die diplomatieke wêreld is ʼn gekompliseerde netwerk van belange wat tot voortdurende kompromieë lei, met een voorbehoud: jou vernaamste land moet uiteindelik beter en sterker daaraan toe wees.

Die Suid-Afrikaanse regering se benadering getuig eerder van ʼn buitelandse beleid jeens Kuba wat daarop gemik is om ʼn ou politieke liefdesvlam nog te laat brand ten koste van die kwesbaarstes in ons land.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Dawie Roodt

Laer rentekoerse wink as vrede in Iran hou

Trump

Iran: Gesprekke begin

Internasionale Perspektief nuut

Nie ʼn perfekte ooreenkoms nie, maar gee dit ʼn kans…

Thoko Didiza

Phala Phala-aanklagkomitee: Geen geskiktheidsvereistes vir nou

Fotokrediet: Netwerk24

Binnelandse sake gaan langer ure werk

Ander Nuus Artikels

Graffiti logo
Graffiti-boekeblad 19 Junie
Willie Aucamp
Willie Aucamp: Ek wil saam met die boere werk
Geordin_Hill-Lewis
Hill-Lewis had geen ander keuse
Dawie Roodt
Laer rentekoerse wink as vrede in Iran hou
Trump
Iran: Gesprekke begin

Luister nou