Redaksie
Die Islamabad-memorandum van verstandhouding bring ’n tydelike skietstilstand tussen die VSA en Iran mee. Dié ooreenkoms bepaal verder dat die Straat van Hormoes heropen sal word, dat die Amerikaanse blokkade op die straat opgehef word en dat verdere onderhandelinge oor onder meer Iran se kernwapenprogram en sanksies teen die land oor die volgende 60 dae in Switserland sal plaasvind.
In die ooreenkoms onderneem die VSA en Iran om geen militêre operasies teen mekaar te begin nie, geen dreigemente te maak of geweld in te span nie. Ook dat Libanon se territoriale integriteit en soewereiniteit verseker is.
Die hoof van openbare skakeling by Solidariteit, Jaco Kleynhans, het aan Nuusweek gesê dat die ooreenkoms tussen die VSA en Iran die weg baan vir ’n belangrike herskikking in die rol van Iran in die Midde-Ooste, die verhouding tussen die VSA en Iran en die toekoms van die mense van Iran.
“Die regering in Teheran staan vandag voor ’n keuse: Implementeer die ooreenkoms, normaliseer verhoudinge met ander lande in die streek en die VSA, staak die moordlustige strewe na die uitwissing van Israel en dominansie in die Midde-Ooste deur proksiegroepe soos Hezbollah en Hamas, of misken die ooreenkoms en val terug in ’n posisie van isolasie, ekstremisme en terreur. Indien Iran die eerste opsie kies, sal die land kan floreer weens die verligting van sanksies en ’n reuseontwikkeling van sy olie- en gashulpbronne. Indien Iran die tweede opsie kies, wat hy ongelukkig die afgelope 47 jaar keer op keer ná ’n krisis gedoen het, kan ons verwag dat die Trump-administrasie in Amerika selfs sterker kan optree en dat Iran se ekonomie, wat die afgelope paar weke in ’n reusekrisis gedompel is, heeltemal in duie kan stort.”
Kleynhans sê die ooreenkoms tussen die VSA en Iran laat baie ruimte vir interpretasie toe en bevat minder konkrete bepalings as waarop baie mense waarskynlik gehoop het. Hy sê die VSA moes kies om vir nog ’n maand of twee met sy blokkade van Iran se hawens voort te gaan en daardeur te probeer om Iran se ekonomie te knak, wat tot wesenlike nuwe uitdagings kon lei.
“Die ander opsie was natuurlik hernude militêre aanvalle, maar met die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps wat die vorm van ’n gedesentraliseerde guerillamag aangeneem het, sou ’n hernude militêre strategie nie noodwendig Iran tot oorgawe gedwing het nie. Die VSA het dus met groot sensitiwiteit die koste van wêreldwye ekonomiese skade op die lang termyn in berekening gebring en besluit om nou ’n ooreenkoms met Iran aan te gaan.”
Kleynhans sê die VSA kon nie bloot maande lank sy stryd teen Iran volhou nie omdat dit vir die VSA-president, Donald Trump, en die Republikeine rampspoedige politieke gevolge in die VSA ingehou het. Boonop sou dit vir die wêreldekonomie hoër inflasie en krimpende groei ingehou het.
Volgens Kleynhans gaan Iran nie binnekort ’n kernwapen kan vervaardig nie.
“Vir minstens die kort tot medium termyn sal die land ook nie ander grootskaalse wapenprogramme kan voortsit en deur sy proksies ’n skrikbewind in ander Midde-Oosterse lande kan voer nie. Dit is alles positiewe gevolge van die ooreenkoms.”
Kleynhans sê ryk Golflande gaan baie groter verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid en veral verdediging begin neem en dat Iran nou sal moet besluit of hy sy verhouding met hierdie lande gaan probeer herstel.
“Die laaste woord oor die ooreenkoms tussen die VSA en Iran is nog lank nie gespreek nie. Meer onderhandelinge lê voor. Maar soos die saak nou staan, sal Iran die belangrikste besluite oor die pad vorentoe moet neem. Indien die land die verkeerde roete kies gaan heelwat meer lande as net die VSA en Israel hulle geduld met Iran verloor.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-71-19-25-Jun-2026.pdf