Luister nou

Nie ʼn perfekte ooreenkoms nie, maar gee dit ʼn kans…

Deur Redaksie

Jaco Kleynhans

 

Die ooreenkoms wat die afgelope week tussen die Verenigde State van Amerika (VSA) en Iran gesluit is, is alles behalwe perfek. Verskeie dele daarvan laat baie ruimte oop vir interpretasie en dit is kommerwekkend dat daar verder oor Iran se kernprogram onderhandel moet word. Vir Amerika en president Donald Trump het die ekonomiese en politieke gevolge van ʼn langdurige stryd al hoe swaarder begin weeg. Vir Iran se regime, wat weke gelede nog gereed was om vir altyd aan te hou veg en wat enige idee van ʼn onderhandelde skikking verwerp het, was ekonomiese ineenstorting en die risiko van ʼn revolusie of hernude Amerikaanse aanvalle genoeg om wel in te stem tot ʼn ooreenkoms wat reeds tot groot interne verdeeldheid binne die regime gelei het.

Die belangrikste aspek van die ooreenkoms is nie noodwendig die inhoud daarvan nie, maar wel hoe die afgelope vier maande se gebeure Iran verswak het, sy vermoë om terreur uit te voer verminder het en die mate waarin sy kernprogram met geweld tot stilstand geruk is. Die herskikking van verhoudinge tussen Iran en die res van die Golfstreek, en die noodsaaklike herskikking van die internasionale olie-, gas- en kunsmishandel om in die toekoms baie minder van uitvoere deur die Seestraat van Hormoes afhanklik te wees, is alles belangrike veranderinge wat deur die oorlog meegebring is.

Diegene wat ʼn diep afkeer van Donald Trump het en hom lank reeds verwerp het, was sedert 28 Februarie teen die Amerikaanse militêre operasie in Iran gekant. Hulle sal ook nie van die voordele van die operasie of die moontlikheid van ʼn werkbare ooreenkoms oortuig kan word nie.

Diegene wat van die begin af teen die oorlog gekant was, sal waarskynlik ook hierdie ooreenkoms tussen die VSA en Iran interpreteer as óf ʼn verlies vir die VSA, óf as betekenisloos, óf bloot as ʼn terugkeer na die periode voor die oorlog. Hulle is almal verkeerd. Die oorlog het nie elke gewenste uitkoms gehad nie, maar dit het die omgewing geskep vir wesenlike herskikkings.

Die besluit om Iran in Februarie aan te val het nie uit die lug geval nie. Dit het ʼn baie lang aanloop gehad. Talle vorige Amerikaanse presidente het dit oorweeg en het telkens weggedeins terwyl Iran sy inkomste uit olie- en gasuitvoere gebruik het om sy kernprogram te ontwikkel, ʼn omvattende ballistiese missielprogram daar te stel en intussen meer as tien proksiegroepe in Gasa, die Wesoewer, Libanon, Sirië, Irak, Bahrein en Jemen te ondersteun en te bewapen om met tye ʼn skrikbewind te kon voer.

Die brutale terreuraanval deur Hamas in Oktober 2023 op Israel het Iran se bepaling in sy eie grondwet, waarvolgens Israel van die aarde gevee moet word, bevestig. In Januarie vanjaar het die regime in Teheran meer as 30 000 van sy eie mense afgemaai tydens betogings teen die onderdrukkende regime.

Maar die groter probleem met Iran hou verband met die land se kernprogram. Reeds in 2002 het Iran beweer dat sy kernprogram uitsluitlik vir vreedsame energieproduksie bedoel is. Intelligensie het egter die bestaan van geheime, onverklaarde verrykingsfasiliteite by Natanz en ʼn swaarwaterreaktor by Arak aan die lig gebring. In 2018 is daar bewys dat Iran ʼn omvattende militêre wapenontwikkelingsprogram, bekend as “Projek Amad”, begin het wat duidelik daarop gemik was om ʼn kernwapen te vervaardig.

Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) het sedert 2019 herhaaldelik verklaar dat uraandeeltjies in talle onverklaarde plekke, soos Turquzabad, ontdek is. Uiteindelik het Iran dit vir die IAEA onmoontlik begin maak om sy werk te doen.

Voordat die VSA en Israel Iran in Februarie aangeval het, het die land vinnige vordering getoon om wel ʼn kernwapen te vervaardig. Steun aan proksies regoor die Midde-Ooste het ʼn hoogtepunt bereik en het oor die afgelope dekade of twee ʼn reusebydrae tot vernietigende oorloë gelei.

Daar is egter ook ʼn belangrike geopolitieke dimensie, en dit is Iran se noue verhouding met Rusland en China voor die oorlog. Hierdie samewerking het bygedra tot Iran se lewering van onder andere aanvalshommeltuie aan Rusland, en China se steun aan Iran se ballistiese missielprogram. Dit het wesenlike toekomsbedreigings vir die Weste en Westerse bondgenote in onder andere Asië begin inhou.

So wat dan van die ooreenkoms?

Skeepsverkeer deur die Seestraat van Hormoes is reeds besig om te normaliseer. Oliepryse daal ook al skerp en brandstofpryse gaan wêreldwyd oor die volgende weke met minstens 30% daal. Die VSA staak sy blokkade van Iran se hawens en sommige sanksies teen Iran word verlig.

Intussen moet ʼn ooreenkoms oor Iran se kernprogram binne 60 dae bereik word. Dit sal waarskynlik nie veel van vorige ooreenkomste verskil nie. Die groot verskil is egter dat Iran se kerninfrastruktuur ernstige skade opgedoen het.

Die regime in Teheran is nog vol ekstremiste, maar hulle sal moet besluit: Gaan hulle versigtiger optree, of gaan hulle radikaliseer? Iran is meer geïsoleer as ooit vantevore en die land se ekonomie het byna in duie gestort. Die risiko’s van ʼn regime in Teheran wat nie by ʼn ooreenkoms met die VSA hou nie, is vir Iran veel groter as vir die VSA. Intussen het die wêreld uit Iran se misbruik van die ontwrigting van skeepvaart deur die Seestraat van Hormoes geleer. Die wêreld en markte gaan aanpas en Iran gaan daardie hefboom verloor. Enige terugkeer na konflik, wat hopelik nie sal gebeur nie, sal nie maklik weer tot oliepryse van bo 110 dollar per vat lei nie.

Ja, die VSA en Trump kon baie dinge anders doen, maar dit sou elk sy eie risiko’s ingehou het. Vir nou moet die kanse vir ‘n werkbare, maar onperfekte ooreenkoms ʼn billike kans op sukses gegun word. En al die argumente teen optrede teen Iran moet mooi herbedink word want Iran was die afgelope 47 jaar die wêreld se grootste uitvoerder van terreur. Die ideologiese dryfkrag daarvoor bestaan steeds in Teheran, maar die regime se finansiële vermoë, militêre kapasiteit en streekinvloed is tans aansienlik swakker as vier maande gelede.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-71-19-25-Jun-2026.pdf

Gewilde Nuus

Fotokrediet: Atlantic Council

Iran se missielprogram is nie deel van die onderhandelinge nie

Telefoon

56% van polisiekantore antwoord nie

Fotokrediet: Tripadvisor

Toeris noodlottig in ‘n skietongeluk gewond

Fotokrediet: BusinessTech

Motoriste kan veranderinge verwag

Parlement

Nuwe reëls vir artikel 89-proses

Ander Nuus Artikels

Thoko Didiza
Phala Phala-aanklagkomitee: Geen geskiktheidsvereistes vir nou
Fotokrediet: Netwerk24
Binnelandse sake gaan langer ure werk
Fotokrediet: Atlantic Council
Iran se missielprogram is nie deel van die onderhandelinge nie
Telefoon
56% van polisiekantore antwoord nie
Fotokrediet: Tripadvisor
Toeris noodlottig in ‘n skietongeluk gewond

Luister nou