Redaksie
Prof André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit sê alhoewel dit by die DA se federale kongres gelyk het asof die party probeer om die minister van Landbou, John Steenhuisen te akkommodeer ná sy uittrede as partyleier, het die afgelope tyd se gebeure die nuwe leier, Geordin Hill-Lewis met geen ander keuse gelaat as om hom van sy ministerspos te onthef nie.
Nuusweek het verlede Vrydag berig hoe woede in landbougeledere en onder die publiek uitgekring nadat Steenhuisen se personeelhoof, Jana le Roux, ’n e-pos van ’n landbou-organisasie aan senior amptenare in die departement aangestuur het met die bewoording: “Vir julle vermaak.” Die gebeure het gevolg nadat daar reeds wye kritiek was oor Steenhuisen se hantering van die bek-en-klouseeruitbreking in die land.
Duvenhage sê hy verneem uit bronne in die DA dat die ontheffing nie ’n uitvloeisel is van enige spanning tussen die huidige en voormalige leier nie, maar dat Hill-Lewis juis gevra het dat Steenhuisen as ’n adjunkminister aangestel moet word.
Willie Aucamp vervang John Steenhuisen as minister van Landbou terwyl David Maynier die posisie van minister van Bosbou, Visserye en Omgewing inneem. Steenhuisen sal Alexandra Abrahams as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Kompetisie vervang, terwyl Abrahams skuif na die rol van adjunkminister van Elektrisiteit en Energie. Yusuf Cassim sal aangestel word as adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding en Jack Bloom as adjunkminister van Water en Sanitasie.
Die voormalige adjunkminister van hoër onderwys, Mimmy Gondwe, en die adjunkminister van water en sanitasie, Sello Seitlholo, is hulle adjunkministerposisies kwyt.
Duvenhage sê Aucamp het ervaring in landbougeledere en dit lyk of die landbousektor positief op sy aanstelling reageer.
“Ons moet onthou dat die DA op die vooraand van ’n verkiesing staan en dat die DA sy eie stel uitdagings die hoof moet bied.”
Duvenhage sê te midde van ’n toename in identititeitspolitiek wat by partye soos die Patriotic Alliance, MK-party en die VF Plus gesien word, kan die DA nie bekostig om Afrikanersteun te verloor nie.
“Hulle moes ’n sigbare verandering aanbring. Van daar die aanwysing van Willie Aucamp.”
Hill-Lewis het in ’n verklaring gesê elke DA-verteenwoordiger in ’n regeringsposisie moet die “DA-verskil in aksie wys”
“Met elke besluit wat ek neem, ongeag hoe moeilik, streef ek na die bevordering van ’n oop gemeenskap met geleenthede vir almal. ’n Gemeenskap waar elkeen ’n lewe van waarde kan leef. Hierdie veranderings onderskryf die DA se vermoë om uitvoering aan hierdie visie vir Suid-Afrika te gee.”
So lyk die DA se ministers en adjunkministers nou:
DA-ministers:
Willie Aucamp – minister van Landbou
David Maynier – minister van Bosbou, Visserye en Omgewing
Siviwe Gwarube — minister van Basiese Onderwys
Solly Malatsi — minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie
Leon Schreiber — minister van Binnelandse Sake
Dean Macpherson — minister van Openbare Werke en Infrastruktuur
DA-adjunkministers:
John Steenhuisen – adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging
Alexandra Abrahams – adjunkminister van Elektrisiteit en Energie
Ashor Sarupen — adjunkminister van Finansies
Yusuf Cassim – adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding
Jack Bloom – adjunkminister van Water en Sanitasie
Jane Sithole — adjunkminister van Kleinsake-ontwikkeling
Die nuwe aanstellings moet eers deur president Cyril Ramaphosa bekragtig word voor dit in werking tree.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-71-19-25-Jun-2026.pdf