Die 54-jarige Moira Harding, wat vermis geraak het nadat sy aan gister se Comrades-marathon deelgeneem het, is gevind.
Volgens News24 is Harding vroeg vanoggend naby die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se basis in Die Punt, Durban gevind – 15 ure ná sy die marathon net voor 17:00 gistermiddag voltooi het.
Volgens die nuusdiens is die NSRI-basis sowat 7 kilometer van die eindstreep by die People’s Park in Durban. Die woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, het bevestig dat Harding agter die instituut se gebou gevind is waarna ‘n ambulans ontbied is. Sy is per lugambulans na ‘n hospitaal geneem.
Dit is onseker in watter toestand sy is. Volgens ooggetuies het sy gedisoriënteerd voorgekom nadat sy oor die eindstreep is.
Harding moes haar familie na die marathon by die Pinetown en Distriksatletiekklub se tent ontmoet, maar het nooit opgedaag nie.