Nuuskommentaar: 15 Mei 2023
Deur: Jan Bosman
In Augustus 1973, 50 jaar gelede, tydens ‘n bankroof in Stockholm, Swede, is gyselaars vir ʼn paar dae deur rowers in die bank aangehou. Die einste gyselaars wou later nie teen die bankrowers getuig nie en het volgens een bron ook selfs geld gehelp insamel vir die rowers se verdediging. Dit het oor tyd ‘n sielkundige verskynsel geïnspireer naamlik Stockholm-sindroom. Dit word beskryf as ‘n toestand waar mense met verloop van tyd positiewe gevoelens teenoor hul ontvoerders of diegene wat hulle misbruik of selfs mishandel, ontwikkel.
Hoe onwaarskynlik dit ook al mag klink, wil dit voorkom asof meeste Suid-Afrikaners aan een of ander vorm van die Stockholm-sindroom ly.
In ʼn ongekende stap het die VSA Ambassadeur in Suid-Afrika Reuben Brigety, die regering daarvan beskuldig dat wapens aan Rusland verskaf is vir die oorlog in Oekraïne. Die president se reaksie is om ondersoek na die bewerings in te stel. Nog ʼn ondersoek wat lank kan duur, geld verkwis en uitkomste en aanbevelings wat nie geïmplementeer word nie. As die sosiale en hoofstroommedia dopgehou word dan wil dit voorkom asof die meeste kommentators dit redelik eens is oor die opbouende frustrasie met die regering oor buitelandse beleid, beurtkrag, verslegtende dienslewering, lang uitgerekte hofsake en min na geen uitvloeisel van enige reg en geregtigheid wat moes volg na die omvattende Zondo-verslag oor staatskaping nie.
Midde in ʼn verswakkende ekonomie en die inploffing van staatsondersteunde entiteite soos Eskom, PRASA en die Poskantoor kom die regering met ʼn Wysigingswet op Gelyke Indiensneming wat maar net nog ʼn nuwe vorm van klein apartheid is, met ander woorde diskriminasie op die wetboeke. Volgens Solidariteit kan die wysigingswet rassekwotas op sektorale en streekvlak vasstel en maatskappye se ‘diensbillikheidsplanne’ moet dan aan kwotas voldoen. Enige redelike mens sou dink dat enige regering wat ernstig is oor die ekonomie en die welstand van sy hele bevolking moontlik dan alles in die stryd sou werp om die beste kundigheid, wit en swart in te span en infrastruktuur begin herstel en bou.
In die lig van die bogenoemde omstandighede sou enige redelike mens ook dink dat kierspatrone en lojaliteite sou skuif veral van ʼn regerende party wat die omstandighede veroorsaak het. In ʼn meningspeiling onder 1517 geregistreerde kiesers in Maart vanjaar het die Social Research Foundation bevind dat die ANC as regerende party nog steeds 52% van steun geniet. Dit is gebaseer op ʼn 66% kiesersopkoms en sluit kiesers in van alle ouderdomme, rasse en gebiede in die land.
Buiten vir die ammunisie aan Rusland skandaal het daar was daar die laaste maande nog skandale rondom korrupsie, skoolvoedingskemas in Natal en die Oos-Kaap, hospitale wat nie kos of mediese voorrade kry nie, ʼn kragminister wat drie maande na aanstelling nog nie uitvoerende magte het nie, onbevoegde ministers wat deur uitsprake hulle onkundigheid demonstreer en vele meer.
Politiek word soms verklaar as die kuns van die moontlike; die kuns van regering en die studie van wie kry wat, waar, wanneer en hoe. Die uitoefening van invloed, beheer en mag en die toedeling van beheer oor hulpbronne of waardes word derhalwe in wese die sentrale kern van politieke partye se bestaan. In Suid-Afrika se geval is die toedeling van hulpbronne op patronaatskappe aan kaders van toepassing en is dit in baie mense gevalle hulle enigste inkomste.
Die sterkte van ʼn staat word geëvalueer met die volgende 6 elemente in gedagte: Soewereine gebiedsbeheer, effektiewe belastinginvordering, goeie bestuur van hulpbronne, die vestiging en instandhouding van infrastruktuur, die vermoë om basiese dienste te lewer en die handhawing van wet en orde. Die laaste vier dui op ernstige verswakking. Die ANC as regerende party het deur sy invloed en totale beheer oor die staat in al sy fasette, eerder hul eie belange as die ontwikkeling van die staat bevorder. Ons sien die ernstige implikasies daarvan vandag.
Ten spyte daarvan en ten spyte van die feit dat Suid-Afrikaners elke dag die gevolge sien en beleef en inderwaarheid aan misbruik en mishandeling deur die ANC blootgestel is, is 52% van kiesers nog van mening dat die ANC die regerende party moet wees en daarom hulle stem verdien. Dit kan niks anders as ʼn vorm van die Stockholm-sindroom wees nie. Dit is egter nie net op die tradisionele magsbasis van die ANC van toepassing nie. Ten spyte van Pres Ramaphosa se lustelose gebrek aan visie, leiding en onvermoë om besluite te neem is daar nog steeds mense wat dan vra, maar wie anders? So al asof Ramaphosa, ten spyte van enige sigbare suksesse in sy termyn dan nog steeds die regte leier is vir die uitdagings waarmee ons worstel. Dit is ook ʼn demonstrasie van die Stockholm sindroom.
Die ander moontlikheid is dat pres. Ramaphosa lankal nie meer enige beheer of houvas oor die regering het nie. Al hoe meer word die moontlikheid genoem dat die land en die president deur ‘n ANC faksie buite die Uniegebou of buite sy kantoor bestuur word. Dalk het die president op ʼn persoonlike vlak nie ekonomiese ooghare vir die Russe nie, want tong in die kies moet ons dan ook erkenning gee aan die feit dat die president eerder Amerikaanse dollars in sy meubels by Phala Phala versteek het, as Russiese roebels.
Dit wil dan voorkom asof die ANC of ʼn faksie daarvan die kuns vervolmaak het om nog steeds die steun van die meerderheid van die burgers te behou. VSA President Dwight D Eisenhower het in Maart 1956 gesê “As ’n politieke party nie as sy grondslag die vasberadenheid het om ’n saak te bevorder wat moreel en reg is nie, dan is dit nie ’n politieke party nie; dan is dit is bloot ’n sameswering om mag te gryp.” As die vraag wat moreel en reg is, gevra en van toepassing gemaak moet word op die ANC dan sou ons min tekens hiervan sien. Dan word die sameswering om mag te gryp en te behou dan die mees waarskynlike. Die uitdaging vir die opposisie partye en die burgerlike samelewing is om die sielkundige greep op die kiesers van die ANC te breek.