Motoriste in Suid-Afrika kan binnekort veranderinge aan die voertuiglisensiestelsel verwag, met die Padverkeersbestuurskorporasie wat oorgaan na elektroniese verifikasie in plaas van fisiese lisensieskyfies.
Volgens die korpoasie se woordvoerder, Simon Zwane sal die oorgang geleidelik plaasvind en bly fisiese skyfies voorlopig geldig totdat volledige implementeringsplanne aangekondig word.
Die nuwe stelsel sal na verwagting gebruik maak van nommerplaat-herkenning en digitale databasisse om voertuie se registrasie te verifieer.
Die doel is om wetstoepassing te verbeter en bedrog met vervalste lisensies te beperk.
Die korporasie het ook sy optrede teen lisensiebedrog verskerp, terwyl nuwe gerekenariseerde toetsstelsels reeds gelei het tot ’n daling in die nasionale slaagsyfer vir leerlinglisensies.