Die departement van justisie het die Wetsontwerp op Beskermde Bekendmakings vrygestel om fluitjieblasers in die land te beskerm.
Die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê dié wetgewing volg op aanbevelings van die Zondo-kommissie om geweld en viktimisering teen informante te fnuik.
Verskeie sleutelhervormings sluit in streng vertroulikheid, staatsregshulp en tronkstraf van tot 15 jaar vir oortreders. Kubayi sê die nuwe raamwerk poog om aanvalle – soos die sluipmoord op die fluitjieblaser Babita Deokaran – te voorkom deur veilige kanale vir aanmelding te skep.
Belanghebbendes het tot 14 Mei om kommentaar te lewer alvorens die regering die wetsontwerp sal verfyn. Kubayi beklemtoon dat die stap deursigtigheid sal bevorder en misbruik van mag in sowel die openbare as private sektor sal uitskakel.