Marelize Maré
Die Departement Agronomie by die Stellenbosch-universiteit se Landboufakulteit het gister twee internskapposte vir junior navorsingsassistente geadverteer, maar die advertensie lui dat slegs swart, bruin, Indiër en Chinese Suid-Afrikaners met ‘n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument in aanmerking daarvoor sou kom.
Die Vryheidsfront Plus sê hy het ’n skermskoot van die advertensie ontvang en wou eers vasstel of dit eg is, maar dieselfde advertensie is op verskeie sosialemediaplatforms opgespoor en dit kon dus as eg aanvaar word.
Die party meen die advertensie spreek van direkte diskriminasie en sê dit is ‘n uitstekende voorbeeld van die ideologie van transformatisme.
Die DA het op sy beurt ook die onlangse advertensie vir internskappe by die universiteit verwerp.
Dié party meen die universiteit se daaropvolgende verduideliking deur die fout aan die rasse-verdelende kriteria van hul befondsers toe te skryf, behoort ook van die hand gewys te word.
Die party sê hy neem egter kennis van die universiteit se erkenning dat dit ’n fout was en die instelling van voorneme is om die rassekriteria met nuwe bewoording reg te stel.
Die DA sê geen organisasie, veral ’n openbare instelling soos ’n universiteit, behoort Suid-Afrikaners as demografiese kategorieë te behandel in plaas van individue met unieke talente en ambisies nie.
Die party sê voorts hy vertrou dat die universiteit alle toekomstige aksies, beleide en strategieë wat studente tot rassekwotas beperk, sal laat vaar.