30 Junie 2022
Die land se bevolking groei met ongeveer 100 000 mense per jaar en dit plaas waarskynlik druk op die lewering van dienste.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) het onlangs sy jongste huishouedelike peiling bekend gestel. Hierin vergelyk SSA 2002 se bevolking en die lewering van dienste met 2021. Luidens die peiling was die bevolking in 2002, 45,92-miljoen. In 2021 was daar ‘n bevolking van 60,48-miljoen.
Ook die getal huishoudings het toegeneem. In 2002 was daar meer as 11-miljoen huishoudings in vergelyking met 2021 se byna 18-miljoen huishoudings.
Volgens SSA toon die peiling dat toegang tot die meeste basiese dienste sedert 2002 verbeter het, maar toegang tot water en krag het sedertdien in sekere provinsies ‘n afname getoon.
In 2002 het 92,5% van huishoudings in die Noord-Kaap toegang tot drinkwater gehad – op hulle erf of buite die erf. Dié syfer het effens gedaal na 90,9% in 2021 in die Noord-Kaap.
Ook in die Vrystaat was daar ‘n afname ten opsigte van drinkwater van 2%. Mpumalanga en Limpopo het elk ‘n afname van byna 4% getoon.
Ten opsigte van krag het Gauteng ‘n afname getoon. Dit wil sê huishoudings wat krag vanaf Eskom of munisipaliteite ontvang. In 2002 het 87,2% van Gautengse huishoudings toegang tot krag gehad. In 2021 het dié syfer op 82,7% gestaan.
Die peiling vergelyk ook ander dienste soos toegang tot internet, vervoer en vullisverwydering.