Die Konstitusionele Hof sal vandag argumente aanhoor in ’n saak oor die beëindiging van ’n kontrak tussen Posbank en die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap.
Posbank het die hof genader om die beëindiging van die Meester Dienste-ooreenkoms te keer, terwyl die dispuut met Sassa voortduur.
Die bank betaal tans maatskaplike toelaes aan nagenoeg drie miljoen begunstigdes.
Sassa voer aan Posbank se beweerde swak prestasie en finansiële ondoeltreffendheid stel die agentskap se reputasie in gevaar, en het die kontrak daarom probeer beëindig.
Die saak volg nadat President Cyril Ramaphosa vroeër gevra het dat die status quo gehandhaaf word, terwyl ’n interministeriële komitee die kwessie ondersoek.
Posbank vra nou vir ’n tussentydse hofbevel om te keer dat die kontrak beëindig word, totdat die geskil finaal opgelos is.